Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onteiening sonder vergoeding is rookskerm vir NMBM se administratiewe mislukking

Die ANC-geleide koalisieregering in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se radikale besluit om voort te gaan met fase twee van die Kleinskool-behuisingsprojek open die agterdeur vir die onteiening van private grond sonder vergoeding.

Die VF Plus staan hierdie stap onwrikbaar teen en beskou dit as niks minder nie as ’n poging om die metro se jarelange administratiewe mislukkings te verbloem.

Dit lyk ook na politieke bokspronge om so kort voor die plaaslike regeringsverkiesing ’n projek deur te druk wat die uitreiking van titelaktes as ’n politieke instrument kan laat dien.

Die krisis in die Kleinskool-nedersetting, waar duisende huishoudings nou op privaat grond sit, is die direkte gevolg van die metro se eie nalatigheid.

Amptelike dokumente bewys die metro was reeds tydens die dorpstigtingsproses bewus van die grondbesitprobleem. Ten spyte hiervan het die ANC-bestuur toegelaat dat die projek voortgaan sonder om die grondstatus op te los.

Die projek sloer al sedert omstreeks 2010 weens swak beplanning. Tot vandag toe is ’n volledige grondoudit nog nooit aan die raad voorgelê nie.

Die ANC-koalisie beweer die eienaars is “onopspoorbaar”, maar versuim om ’n duidelike tydlyn of bewys van ’n deeglike aktekantoor-ondersoek te lewer. Om nou na onteiening te gryp om hierdie foute reg te stel, is administratiewe argeloosheid.

Die VF Plus beskou hierdie plan as ’n oortreding van wetgewing en die skending van eiendomsreg. Die koalisie probeer wetlike kortpaaie neem wat privaat eiendomsreg regoor die metro bedreig.

Die ouditeur-generaal (OG) kap die metro reeds jare lank oor powere rekordhouding en onreëlmatige uitgawes. ’n Oorhaastige en onregmatige onteieningsproses gaan die metro blootstel aan miljoene rande se skadevergoedingseise en uitgerekte litigasie. Die belastingbetalers gaan die prys daarvoor betaal.

Die VF Plus eis dat die amptenare wat toegelaat het dat hierdie projek sonder die nodige regsprosesse voortgaan, aanspreeklik gehou word. Die enigste volhoubare oplossing is ’n volledige grondoudit, deursigtige onderhandelinge met grondeienaars en ’n regmatige proses wat sowel die inwoners as die eienaars se regte beskerm.

Die ANC-geleide koalisie het bewys dat dit administratiewe wanorde en politieke gewin bo regsekerheid en belastingbetalers se belange stel.

Op 4 November het die inwoners van die NMBM die geleentheid om vir die VF Plus te stem vir ʼn verantwoordbare regering, deursigtigheid en die beskerming van privaat eiendom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.