Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis daadwerklike ingryping ná noodlottige skoolbusbotsing op N14

Die tragiese ongeluk op die N14 naby Kathu waarin Ilze Posthumus, ‘n onderwyseres haar lewe verloor het, benadruk weereens die gevaarlike toestand van paaie in die Noord-Kaap.

In die ongeluk het ‘n skoolbus met ‘n stilstaande vragmotor gebots. Die VF Plus het reeds sy innige meegevoel met die oorledene se familie, kollegas, leerders en die groter Kathu-gemeenskap betuig.

Die beseerdes word ook ‘n spoedige herstel toegewens.

Hoewel die ondersoek na die presiese omstandighede van die ongeluk nog aan die gang is, beklemtoon hierdie tragedie die dringende behoefte aan sterker padveiligheidsmaatreëls op die Noord-Kaap se hoofvervoerweë.

Mynbou, as een van die provinsie se belangrikste ekonomiese sektore, dra noodwendig tot groot volumes swaar voertuie op die provinsie se paaie by. Die verantwoordelikheid om padveiligheid te verseker, bly in die eerste plek by die departement van vervoer, veiligheid en skakeling, saam met verwant agentskappe.

Volgens die VF Plus is die tyd vir reaktiewe optrede verby. Die departement behoort voortdurende risiko-ontledings van hoëverkeersroetes soos die N14, N12 en R31 te doen, die handhawing van verkeersreëls te versterk, voldoende rus en noodstaangeriewe vir vragmotors te verseker, en te monitor of bestaande padinfrastruktuur steeds geskik is vir die volume swaarvoertuigverkeer wat dit gebruik.

Die provinsiale regering het ‘n plig om nie slegs ongelukke te ondersoek nadat lewens verloor is nie, maar om voorkomende maatreëls te in te stel wat sulke tragedies kan voorkom.

Terselfdertyd kan die rol van die mynbedryf nie buite rekening gelaat word nie. Mynmaatskappye trek beduidende voordeel uit die gebruik van hierdie roetes. Hulle behoort verantwoordelike vennote te wees in pogings om padveiligheid te verbeter, infrastruktuuronderhoud te steun en die risiko’s wat met intensiewe swaarvragvervoer gepaardgaan, te help beperk.

Die VF Plus sal die LUR versoek om volledig verslag te doen oor vragmotorverwante ongelukke in die provinsie, die huidige veiligheidsmaatreëls op hoërisiko-roetes en die samewerking tussen die departement, padowerhede en die mynbedryf om verdere lewensverlies te voorkom.

Hierdie tragedie moet ‘n keerpunt wees. Die mense van die Noord-Kaap verdien paaie waarop leerders, opvoeders, werkers en gesinne veilig kan reis.
Padveiligheid vereis beplanning, handhawing en politieke wil en nie bloot ondersoeke nadat nog ‘n lewe verlore is nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.