Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nuwe landbouminister: VF Plus hou dop vir resultate

Nuus dat die voormalige DA-leier, mnr. John Steenhuisen, eersdaags as minister van landbou vervang word, kon min mense verbaas het.

Die VF Plus wens daarmee ook sy opvolger, mnr. Willie Aucamp, sterkte toe.

Steenhuisen se onsuksesvolle poging om bek-en-klouseer die hoof te bied, is rampspoedig afgerond met onsensitiewe kommunikasie vanuit sy eie binnekring. Die situasie het ooglopend onhoudbaar geword. Die groot vraag is nou tot watter mate dit gaan verbeter.

Aucamp het ‘n sterker agtergrond in landbou en het tevore op die portefeuljekomitee van dié departement gedien.

Wat Steenhuisen egter gekelder het, was nie in die eerste plek sy gebrek aan landboukennis nie, maar sy onvermoë om sy departement se sentraliserende instinkte te tem. Toe hy die staat se rol moes verskraal ten gunste van die private sektor, het hy onder leiding van senior amptenare die teenoorgestelde gedoen.

As ‘n minister sy onbevoegde departement steun in hul poging om alleenbeheer oor ‘n ramp te behou, strydig met sy eie vorige beleidsuitsprake, is sy doppie as’t ware geklink. Dit is presies die toets wat nou vir Aucamp voorlê.

Die vraag waarvoor die hele landbousektor asem ophou, is dus of minister Willie Aucamp sy departement onder beheer gaan bring, of daardeur ingesluk gaan word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.