Die VF Plus het vandag weer teen die Ekurhuleni-metro se voorgestelde 2026/27-begroting gestem, nadat dit feitlik onveranderd aan die raad voorgelê is met ernstige finansiële en regulatoriese vrae wat onbeantwoord bly.
Nadat die begroting in 11 Junie se raadsvergadering afgekeur is, het die uitvoerende burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, en die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, sewe dae geleentheid gehad om die begroting aan te pas en weer voor te lê.
Die VF Plus het gewaarsku dat die begroting op onrealistiese aannames steun, insluitend ’n invorderingskoers van 90%, ’n geprojekteerde oorskot van R1,523 miljard en voorgestelde oorbruggingsfinansiering van R500 miljoen.
Sedertdien het verdere inligting rakende Ekurhuleni se elektrisiteitstariewe na vore gekom wat die geloofwaardigheid van die begroting vererger.
Die VF Plus vind dit uiters problematies dat die raad gevra word om ’n begroting goed te keur wat op elektrisiteitsinkomste steun, terwyl daar steeds onsekerheid bestaan oor die onderliggende tariefstruktuur.
Dit nadat die elektrisiteitsreguleerder, Nersa, op instruksies van die hof bekend gemaak het dat hy eers op 23 Junie 2026 sy finale besluit oor Ekurhuleni se tariefstruktuur bekend sal maak.
Voorts dui Nersa se berekeninge aan dat die metro R942 miljoen meer kan invorder indien hy sy bestaande kragverliese van 15,54% na 12% kan verminder.
Hierdie bedrag kan tot meer as R2,5 miljard styg indien Ekurhuleni sy kragverliese tot 6% beperk.
Die VF Plus wil weet waarom inwoners tariefverhogings van 11% vir water, 8,35% vir sanitasie, tot 9,01% vir elektrisiteit, 3,4% vir vullisverwydering en 2% vir eiendomsbelasting opgelê word terwyl miljarde rande steeds verlore gaan deur kragverliese en swak finansiële beheer.
Aangesien die begroting weer nie aanvaar is nie, moet ‘n gewysigde begroting binne sewe dae voorgelê word.
Inwoners kan op 4 November 2026 vir die VF Plus stem vir ‘n begroting wat op realistiese aannames, verantwoordelike bestuur en beter dienslewering gegrond is.


