Die VF Plus in die ANC-beheerde Madibeng-plaaslike munisipaliteit, het gister tydens ʼn raadsvergadering sterk kapsie gemaak teen die aanvaarding van ʼn onbefondsde begroting vir die nuwe finansiële jaar.
Die ouditeur-generaal (OG) het reeds vir jare oudit-bevindings oor Madibeng se geldsake weerhou weens onder meer hierdie wanpraktyk.
Ten spyte van herhaalde aanmanings van die OG en die tesourie, het die munisipaliteit nog geen poging aangewend om stappe in te stel om die munisipaliteit se geldsake te verbeter nie.
Madibeng was wel telkens in die nuus weens opeenvolgende ANC-korrupsie skandale.
Dit is duidelik uit die begroting van 2023/2024 dat ʼn tekort van R366 miljoen vir lopende operasionele uitgawes reeds voorsien word.
Die ANC-beheerde munisipale raad het die begroting boonop aanvaar ten spyte van groot teenstand uit die Madibeng-gemeenskap.
Tydens die voorafgaande openbare deelnameproses, het verreweg die meeste wyke die begroting verwerp.
Daar was veral beswaar teen gebrekkige voorsiening vir kern-diensleweringsitems soos die instandhouding van paaie en infrastruktuur.
Dit het uit die openbare deelnameproses ook duidelik geblyk dat die mening en werklike behoeftes van die gemeenskap by die ANC in die Madibeng munisipale raad geen gewig dra nie.
Die inwoners van Brits, Mooinooi en Hartbeespoort verdien beter as die ANC.