fbpx
Vryheidsfront Plus

Mogalakwena se tariefverhogings nie in voeling met ekonomiese uitdagings

Die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Potgietersrus) is buite voeling met die ekonomiese uitdagings van sy inwoners en sake-ondernemings.

Dit blyk duidelik uit die munisipaliteit se finale konsepbegroting vir die 2023/24-finansiële jaar wat gister ter tafel gelê is en waarin verhoogde tariewe vir water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteit aangekondig is.

Die mees onbillike tariefverhoging wat belastingbetalers veral gaan ontstel, is die watertarief wat met ’n buitensporige 46.3% styg.

Dié verhoging is voorgestel deur die staatsentiteit wat water verskaf aan die munisipaliteit, Lepelle Northern Water (LNW).

Daar was ’n geleentheid vir inwoners om kapsie teen die begroting te maak tydens openbare vergaderings waar die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) bespreek is.

Die VF Plus sou graag wou sien dat meer inwoners by hierdie vergaderings teenwoordig is.

Inwoners van Potgietersrus gaan daagliks gebuk onder watertekorte weens kragonderbrekings wat LNW se bedrywighede by pompstasies, soos die een by Doorndraaidam, gereeld knou.

Hierdie bedrywighede behoort van die nasionale netwerk verwyder te word om sodoende inwoners se reg tot voldoende watervoorsiening te onderhou.

Tans is die munisipaliteit verantwoordelik vir die kragtoevoer na Doorndraaidam, maar dit is kommerwekkend dat LNW nie alternatiewe kragopwekking in plek het in tye van nood nie.

Die VF Plus sou wou sien dat daar ‘n strategiese plan in samewerking met LNW in plek is aangesien belastingbetalers reeds vir hierdie dienste betaal.

Verdere voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
Eiendomsbelasting: 5,3%
Sanitasie: 5,3%
Vullisverwydering: 5,3%

Die munisipaliteit stel hierdie verhogings in teen die agtergrond van swak dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur.

Daarom het die VF Plus daarteen gestem.

Die party is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik wees en die huidige ekonomiese klimaat en inwoners se finansiële posisie in ag neem.

Potgietersrus verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.