Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwerp Gautengse provinsiale begroting vir 2018/19

Die VF Plus verwerp Gauteng-provinsie se begroting vir die 2018/19 finansiële jaar aangesien die party nie 'n begroting kan goedkeur waarin daar teen minderheidsgroepe gediskrimineer word nie.

Gauteng se premier, mnr. David Makhura, het verlede Vrydag aangekondig dat hy voortgaan met sy projek om grond en geboue van private persone en instansies te onteien.

Hy het gesê hy is nie bereid om te aanvaar dat die werklikheid van die apartheids- en koloniale verlede, waar 'n klein deel van die bevolking grond en eiendom besit, langer geregverdig kan word nie. Volgens Makhura sit die meerderheid sonder grond en eiendom.

Volgens Makhura sal hy voortgaan met hierdie projek ongeag die VF Plus se waarskuwing vroeër die maand dat hy besig is om met hierdie program onwettig op te tree en dat hy slegs die wetlike mag het om provinsiale grond en eiendom te gebruik vir sy planne.

Die VF Plus se mening is dat Makhura se uitlatings 'n verdere vuurhoutjie in die veld gooi en dat hy besig is om onmin onder inwoners van Gauteng te saai.

Die VF Plus kan dus nie 'n begroting ondersteun wat aangewend sal word om onwettig op mense se grond en eiendom beslag te lê nie en kan geensins deel wees van 'n proses wat gaan veroorsaak dat die provinsie se ekonomie in duie gaan stort en in algehele chaos gedompel gaan word nie.

Makhura is besig om die parlementêre proses rondom die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet vooruit te loop.

Die VF Plus het dus die hele begroting van die Gautengse regering verwerp en doen 'n beroep op inwoners van Gauteng wat in besit is van ongebruikte grond en geboue, om hul gereed te maak vir regsprosesse teen die Gautengse regering.

Kontaknommer: 060 556 4347

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.