fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-premier moet Hlongwa afdank en krimineel laat vervolg

Die VF Plus het gisteraand in 'n mediakonferensie met opposisiepartye in die Gautengse wetgewer, daarop aangedring dat die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, teen die ANC se hoofsweep, mnr. Brian Hlongwa, moet optree deur hom summier af te dank en kriminele klagte teen hom in te dien.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het gesê Makhura handhaaf dubbele standaarde deur Hlongwa te beskerm.

Die gebeure het gevolg op 'n dringende mosie wat opposisiepartye gister ter tafel gelê het om Hlongwa as lid van die wetgewer te verwyder nadat 'n spesiale ondersoekeenheid se verdoemende verslag oor Hlongwa se korrupte aktiwiteite die afgelope naweek bekend gemaak is.

In dié verslag word Hlongwa beskuldig van R1.2 miljard se bedrog en diefstal in die departement van gesondheid toe hy LUR in die departement was tussen 2006 en 2009. Die VF Plus is in besit van die volledige verslag.

Die party het tydens die debat van die mosie en die mediakonferensie, gesê die VF Plus handhaaf 'n beleid van zero toleransie teen bedrog, diefstal en korrupsie.

Van Staden het gesê dat, indien die spesiale ondersoek eenheid se bevindinge vals is soos wat Hlongwa en die ANC beweer, moet Hlongwa die teendeel in die openbaar bewys. Indien Hlongwa dit nie kan doen nie, moet hy die eerbare ding doen en sy bedanking as lid van die provinsiale wetgewer indien.

Van Staden het dit beklemtoon dat die Gautengse departement van gesondheid in 'n groot gemors is en dat mense reeds in hospitale gesterf het weens die departement wat nie effektief kan funksioneer nie. Die Life Esidimeni-tragedie was nie die eerste en enigste voorval nie en die VF Plus sit met baie klagtes oor mense wat weens nalatigheid gesterf het.

Die VF Plus is reeds die afgelope ruk besig om klagte teen die Gautengse premier, die voormalige LUR, Qedani Mahlangu en amptenare van die departement voor te berei om hulle krimineel te laat vervolg vir moord, poging tot moord en nalatigheid. 'n Verdere klag sal ook nou deur die VF Plus teen Hlongwa geformuleer word wat saam met die stel klagte aan die owerhede oorhandig sal word.

Kontakbesonderhede: 060 556 4347

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.