Geweerskote is tydens Barberton se jongste protes-aksie gevuur nadat die situasie handuit geruk het.
Inwoners van Umjindini en Barberton het die historiese dorp heeltemal beset en lamgelê. Hulle eis om weer van die stad Mbombela geskei te word weens die toekenning van begrotings vir dienste wat nie die groter Barberton-gebied bereik nie.
Voor die verkiesing in 2016 het die munisipale afbakeningsraad verklaar dat op grond van die voorstelle van dié betrokke gemeenskappe en die bevindings van die openbare deelnameprosesse, die meerderheid mense wou hê dat die samesmelting moes plaasvind omdat daar beloftes gemaak is vir die sosiale opheffing van die dorp.
Die Laerskool Barberton en die Hoërskool Barberton moes ook sluit, en die enigste mense wat toegang tot die dorp verkry het, was die nooddienste.
Daar is op inwoners van Barberton geskiet wat probeer het om die dorp te verlaat. Alhoewel niemand beseer is nie, het hierdie protes-aksie dié soort protesaksies tot 'n nuwe vlak van misdadigheid verhoog.
Die VF Plus is van mening dat 'n dorp wat grotendeels ten gunste van die regerende party, die ANC, gestem het, die geleentheid gehad het om die samesmelting stop te sit en om hul demokratiese reg te gebruik om die regerende party uit die stad Mbombela te stem.
Die VF Plus verwerp die sluiting van Barberton aangesien wetsgehoorsame inwoners gyselaar gehou word en hul lewens en eiendom word bedreig.
Die ANC het in die verkiesing 80% van die stemme op hom gevestig en móét pa staan vir die probleme.
Kontaknommer: 083 444 6358