Die VF Plus verwelkom die jongste optrede van die mededingingskommissie oor Premier Foods se voorgenome sluiting van die vrugteverwerkingsaanleg in Tulbagh.
Die kommissie het aansoek gedoen dat die mededingingstribunaal die goedkeuring van Premier se oorname van Rhodes Food Group heroorweeg, nadat daar kommer ontstaan het dat die onderneming moontlik nie aan die voorwaardes van die transaksie voldoen het nie.
Na bewering is alternatiewe ooreenkomste reeds met sommige werknemers gesluit – wat ook heel moontlik teenstrydig is met aanvanklike ooreenkomste.
Die VF Plus het reeds vroeër die kommissie formeel genader oor die voorgenome sluiting en sal voortgaan om die belange van die betrokke produsente, werknemers en die breër Tulbagh-gemeenskap onder die aandag van die betrokke rolspelers te bring.
Die party meen dat volhoubare oplossings gevind moet word wat nie net werksgeleenthede beskerm nie, maar ook verseker dat vrugteprodusente toegang tot billike markte en mededingende pryse het.
Die VF Plus sal hierdie proses fyn dophou en sal nie ophou druk plaas totdat daar behoorlik na die belange van Tulbagh se produsente en werknemers geluister word nie.

