Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom stappe teen geweld op paaie rondom Kaapstadse lughawe en onlangse inhegtenisnemings van verdagtes

Die VF Plus is bly dat sy bewusmakingsveldtog bygedra het tot die optrede van die Stad Kaapstad, Sanral en die polisie op die paaie rondom die Kaapstadse Internasionale Lughawe en veral die N1, N2 en R300, om die hewige vlaag van geweldsmisdaad, aanvalle en rooftogte te bekamp.

Die party verwelkom veral die vinnige inhegtenisneming van verdagtes in onlangse voorvalle, insluitend die verdagte wat ‘n bejaarde dowe egpaar met ‘n panga aangeval het op Nuwejaarsdag, 1 Januarie 2026, op die N1-snelweg tussen Canal Walk (Century City) en die M5-afrit.

Motoriste wat die twee slagoffers gehelp het, het die VF Plus via sosiale media gekontak om hulp nadat die polisie nie ‘n verklaring op die toneel afgeneem het nie. Die VF Plus (raadslid Emre Uygun) en personeel van die Stad Kaapstad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit het die slagoffers persoonlik ontmoet, die nodige kontakte in die polisie geskakel en die egpaar na Maitland se polisiekantoor geneem waar ‘n saakdossier geopen is.

Die verdagte is kort daarna op die N1 in hegtenis geneem met die panga in sy hand, wat ooreenstem met die beskrywing van die slagoffers.

Daarbenewens is daar in die afgelope tydperk verskeie ander arrestasies gedoen in verband met soortgelyke aanvalle en rooftogte op hierdie snelweë – ‘n positiewe stap vorentoe.

Nadat die VF Plus in November 2025 in ‘n mediaverklaring aangedring het op dringende ingryping ná aanhoudende aanvalle, het die betrokke owerhede uiteindelik met erns begin reageer. Dit sluit in die ontplooiing van bykomende patrollies en metro-polisiebeamptes, die herstel van beskadigde snelwegheinings, die heraktivering van gebreekte CCTV-kameras, en die vordering met planne vir ‘n R180 miljoen sekuriteitsmuur langs hoërisiko-gebiede.

Die VF Plus verwelkom hierdie stappe as ‘n positiewe begin, maar die voortgesette voorvalle van geweld – insluitend rooftogte, skietvoorvalle en klipgooiery – wys duidelik dat daar veel meer gedoen moet word voordat gewone motoriste weer veilig kan reis.

Die DA-beheerde Stad Kaapstad, Sanral en die provinsiale regering het hierdie ernstige probleem vir jare lank grootliks geïgnoreer of die verantwoordelikheid van die een na die ander oorgeskuif. Selfs nou bly hierdie sogenaamde “Hell Run” ‘n gevaarlike gebied.

Die tragiese moord op Karin van Aardt (64), ‘n afgetrede onderwyseres van Johannesburg, op 5 Desember 2025 naby die lughawe – terwyl sy vir haar kleinseun se verjaardag kom kuier het – het die krisis opnuut onder die kollig geplaas, met inhegtenisnemings wat later gevolg het.

Sedertdien het daar nog verskeie ernstige voorvalle plaasgevind. Hierdie situasie is onaanvaarbaar en kom neer op anargie wat nie geduld mag word nie.

Die VF Plus doen weer ‘n dringende beroep op alle betrokke rolspelers om saam te werk vir ‘n geïntegreerde, volhoubare oplossing. Die party is bereid om te help en glo dat ons groot bewusmakingsveldtog oor die laaste maande, wat wyd aandag in die media en op sosiale media geniet het, reeds begin vrugte afwerp.

Die VF Plus sal aanhou met sy veldtog van bewusmaking en druk op die owerhede plaas totdat hierdie paaie weer veilig is vir alle motoriste – plaaslik en besoekers van regoor die wêreld.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.