Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dringende ingryping nou nodig om bek-en-klouseer te stuit

Bek-en-klouseer se toename in Gauteng en omliggende provinsies raak nou ‘n werklike krisis en die land se uitvoerende gesag sal onmiddellik en beslissend moet ingryp om dit te stuit.

Daar is veral ‘n skerp toename in Wes-Gauteng in die omgewing van Tarlton.

Die bestryding van bek-en-klouseer is die staat se verantwoordelikheid en dit is duidelik dat die staat tot dusver daarin gefaal het om doeltreffende beheer toe te pas.

Die versuim van die nasionale departement van landbou het daartoe gelei dat Suid-Afrika nou noodgedwonge entstof uit Botswana moet invoer, wat eers na verwagting teen die einde van Januarie 2026 beskikbaar sal wees.

Invoere van Dollvet (Turkse entstof) word ook oorweeg. Hierdie vertraging stel produsente bloot aan onaanvaarbare risiko’s.

Verder is dit uiters kommerwekkend dat die departement nie sy beplande ingrypings en tydlyne met boere en met die bedryf kommunikeer nie. Dit laat rolspelers moedeloos, weerloos en uitgelewer.

Intussen word stoeterye met gevestigde bloedlyne en waardevolle teelmateriaal ernstig benadeel, met ernstige medium- en langtermyngevolge vir die rooivleisbedryf en voedselsekerheid.

Die wetgewende gesag, en in besonder die portefeuljekomitees wat oorsig hou oor die uitvoerende gesag, het nou ’n grondwetlike plig om indringend in te gryp en die uitvoerende gesag tot volle verantwoording te roep.

Amptenare van die Gautengse departement van landbou, die staatsveearts en Karan Beef het reeds voor die Gautengse portefeuljekomitee vir landbou verskyn.

Die VF Plus sal, as voorsitter van die Gautengse wetgewerkomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, nou in verbinding tree met alle ander provinsiale voorsitters van landbouportefeuljekomitees, sowel as die parlementêre oorsigkomitee vir landbou, om gesamentlik die provinsiale uitvoerende gesag, hul departemente, asook die nasionale minister en sy departement, tot verantwoording te roep.

Waar die uitvoerende gesag faal, moet die wetgewende gesag binne sy mandaat optree om die krisis te hanteer.

Intussen word ’n dringende beroep op boere en voerkrale gedoen om streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas en hande te vat met georganiseerde landbou en instellings soos die Rooivleisprodusente-organisasie om saam aan praktiese en uitvoerbare oplossings te werk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.