Die VF Plus verwelkom die dwelmeenheid van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se beslaglegging op dwelms ter waarde van meer as R200 000 die afgelope week in Kemptonpark.
Die verwydering van so ‘n groot hoeveelheid dwelms uit omloop dra direk by tot die beskerming van gesinne en die red van lewens.
Volgens beskikbare inligting het EMPD-beamptes tydens misdaadvoorkomingspatrollies opgetree ná ’n wenk oor vermeende dwelmhandel in Gottfriedstraat.
Beamptes het ’n transaksie waargeneem en ingegryp, wat gelei het tot die opspoor van onwettige middels.
Verdere ondersoek het na ’n nabygeleë perseel op die hoek van Willow- en Parkstraat gelei, waar ’n groot hoeveelheid dwelms, insluitend Mandrax-tablette, crystal meth, heroïen (nyaope) en khat, asook kontant, gevind is.
Dwelmhandel voed verslawing, gewelddadige misdaad en sosiale verval en elke suksesvolle operasie van hierdie aard voorkom ernstige skade aan gemeenskappe.
Die VF Plus doen ’n beroep op volgehoue ondersteuning vir voorlinie-wetstoepassers en herhaal die noodsaaklikheid van konsekwente, intelligensiegedrewe operasies om gemeenskappe veilig te hou.
Die party sal effektiewe polisiëring bly ondersteun en die ANC/EFF-koalisieregering aanspreeklik hou om te verseker dat wetstoepassingsagentskappe behoorlik toegerus, bemagtig en ondersteun word om die lewens en welsyn van Kemptonpark se inwoners deur 2026 te beskerm.


