Die VF Plus verwelkom die poging wat aangewend word om die gehawende paaie rondom Hazyview en Sabie in die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit te herstel.
Aanhoudende kommunikasie vir agt maande met Mpumalanga se LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, me. Mohita Latchminarain, het daartoe gelei dat die D514 in Kiepersol, die R536 tussen Sabie en Hazyview en die R535 tussen Graskop en Hazyview welverdiende aandag geniet het.
Die herstelwerk is deel van die departement se "Oorlog op slaggate-veldtog” (Vala Zonke).
Die slaggate op hierdie paaie het ernstige skade veroorsaak aan voertuie van meestal plaaslike en internasionale toeriste wat nie vertroud is met die toestand van die paaie nie.
Hazyview, Sabie en Graskop is internasionaal bekend as toeristebestemmings en daarom is dit van die uiterste belang om seker te maak dat besoekers veilig kan reis.
Die VF Plus het op uitnodiging van die departement die pad besoek waar die herstelwerk gedoen word. Me. Latchminarain het haar versekering gegee dat alle roetes wat na Hazyview lei tydens die veldtog herstel sal word.
Die VF Plus sal aanhou veg vir motoriste se reg om op veilige paaie sonder slaggate te ry en sal die vordering van die herstelwerk deurgaans monitor.