Die Gautengse premier, David Makhura, se beloftes verlede week tydens ‘n besoek aan Emfuleni waar hy eienaars van kleinsake-ondernemings en inwoners van Emfuleni toegespreek het, is niks anders as politieke propaganda nie.
Makhura se toespraak was slegs gemik op die vooruitgang van ondernemings in swart besit en sal volgens hom voorkeur kry vir befondsing vanaf die provinsie.
Dit is onaanvaarbaar dat die res van Emfuleni se ondernemings uitgesluit word.
Sy aankondiging dat die provinsie sy administratiewe ondersteuning aan Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) in September gaan onttrek, sal niks aan die huidige finansiële omstandighede van die munisipaliteit verander nie.
Dienslewering in die munisipaliteit wat onder gedeeltelike administrasie is, kan slegs verder versleg.
Makhura het tydens sy toespraak daarop gewys dat onder provinsiale administrasie 21 paaie (18,7km) herstel is, maar het vergeet om te verwys na die ander 1 783 paaie in Emfuleni wat nog herstelwerk nodig het.
Die VF Plus is verder bekommerd oor die premier se tydlyn vir die Mitochondria-aanleg wat vir 2023 beplan word. Dit word op landbougrond beplan, maar moet eers gehersoneer word tot industriële gebied voordat bouwerk kan begin.
Omliggende boere het reeds aangedui dat swaar voertuie hul grondpaaie verder gaan verniel en besoedeling kan plaasvind wat gewasse kan beïnvloed wanneer ‘n industriële aanleg tussen boere opgerig word.
Die VF Plus stem nie saam met die premier se toespraak wat net sekere mense uitsonder terwyl alle sakeondernemings in Emfuleni sukkel om kop bo water te hou nie.


