Dit is bekend dat misdaad regoor Suid-Afrika buite beheer geraak het en die VF Plus het daarom die Wes-Kaapse regering versoek om voorkomend op te tree deur ‘n spesialis-misdaadbestrydingsspan op die been te bring.
Die doel hiermee is om ‘n risikobestuur-strategie te ontwerp om veral hospitale, klinieke, skole en plase te beskerm.
Suid-Afrika se strafregstelsel het, soos die polisie, onder ‘n onbevoegde ANC-regering agteruit gegaan. Misdadigers vrees nie meer die polisie en die howe nie.
Die land het die speelplek geword van verkragters, moordenaars, rowers, onwettige immigrante en Zama-Zama’s se onwettige mynbedrywighede.
Selfs gewone mense wend hulle tot misdaad bloot om te oorleef weens die hoë werkloosheidsvlakke in die land.
Suid-Afrikaners sien daagliks mediaberigte oor geweld by skole, skietvoorvalle by informele nedersettings, die verwaarlosing van pasiënte by aftreeoorde en hospitale, plaasaanvalle, bende-misdaad wat onskuldige lewens eis asook die afbrand en vernietiging van openbare vervoerstelsels en privaat-eiendomme.
Misdaad het inderdaad Suid-Afrika se grootste vyand geword met die hoë voorkoms van moord en geweld ‘n aanduiding van ‘n regering wat die stryd teen alle misdaad, maar veral ernstige misdaad verloor het.
Die VF Plus het daarom 'n beroep op die Wes-Kaapse regering gedoen om ‘n spesiale teen-misdaadeenheid te skep bestaande uit bekwame en kundige polisielede van alle bevolkingsgroepe om misdaad daadwerklik die stryd aan te sê.
Die tyd het aangebreek om pro-aktief te raak met ‘n gesamentlike poging om gewone landsburgers teen misdadigers te beskerm.
Die Wes-Kaap moet self optree waar die ANC misluk. Suid-Afrika en die mense van die Wes-Kaap verdien beter as die ANC-regering.


