Die VF Plus verwelkom die skorsing van twee amptenare van Gauteng se departement van gemeenskapsveiligheid vir beweerde korrupsie.
Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het die hoof van die departement, Nontsikelelo Sisulu, en die uitvoerende finansiële hoof, Mdudizi Malope, summier geskors ná ʼn forensiese oudit finansiële ongerymdhede in die departement oopgevlek het.
Die Gautengse regering het oor die naweek altesame 39 forensiese ondersoekverslae openbaar gemaak wat bewerings van korrupsie tussen amptenare en diensverskaffers uitlig.
Dit is verblydend dat daar uiteindelik opgetree word teen amptenare wat van beweerde korrupsie beskuldig word, maar die VF Plus beskou hierdie as die oortjies van die seekoei.
Dit is nou van kardinale belang om ʼn volledige ondersoek spoedig en deeglik af te handel en dat strafregtelike klagte sal volg indien daar prima facie bewyse van korrupsie is.
Die VF Plus is daartoe verbind om enige vorm van misdaad te beveg, veral in wetstoepassingkringe.
Niemand is bo die wet verhewe nie.


