Die behuisingskrisis in die Tshwane-metro het die afgelope kwartaal toegeneem deurdat daar geen vordering met bouprojekte en infrastruktuurontwikkeling was in enige van die metro se 53 behuisingsprojekte nie.
Dit blyk uit ʼn verslag van die departement van menslike nedersettings dat miljoene aan behuising en infrastruktuur toegeken is, maar geen huis is gebou, grond aangekoop, teerpaaie gelê of infrastruktuur voltooi nie.
Baie van die behuisingsprojekte is vasgevang in regsaksies, kontrakteurs wat afwesig is en plaaslike forums se ontwrigting.
ʼn Behuisingsprojek in Mamelodi se infrastruktuur is voltooi, maar geen huis is die afgelope drie maande gebou nie.
Behuisingsprojekte in Rama City en Pretoriuspark is stilstaande weens kontrakteurs se gebrek aan ʼn bewys van ʼn nasionale bouregulasie-sertifikaat.
Die agterstand van voltooiing van behuisingsprojekte is nie net ʼn frustrasie vir voornemende huiseienaars nie, maar ook ʼn oortreding van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) wat bepaal dat indien fondse nie doeltreffend bestee word nie, dit as onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes beskou sal word.
Die VF Plus het die volgende voorgestel om die situasie om te keer:
- Skop amptenare uit wat nie presteer nie. Dienslewering moet nie ‘n opsionele taak wees nie.
- Onafhanklike oudit van prestasie-aanwysers op ‘n kwartaallikse grondslag en maak dit openbaar aan die publiek.
- Stel bevoegde kontrakteurs aan wat in staat is om die projek suksesvol af te handel.
- Volledige verslag oor kontrakteurregistrasie en nasionale bouregulasie-sertifikaatnakoming
Die VF Plus is ʼn voorstander van aanspreeklikheid en die wettige bestuur van projekte. Dienslewering aan die gemeenskap is nie ʼn voorreg nie, dit is ʼn reg.
Die VF Plus sal sy oorsigpligte nakom en die projekte dophou. Die party sal ook daarop aandring dat projekte spoedig begin om die behuisingskrisis op te los.


