Die VF Plus verwelkom die skorsing van die waarnemende finansiële beampte van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), Andile Dyakala, wat aan vyf aanklagte van ernstige ongerymdhede skuldig bevind is.
Die sluit in die onregmatige verlenging van die werkskontrakte van politieke personeel, die aanstelling van diensverskaffers vir korttermyn-versekering, oortreding van die munisipaliteit se voorsieningsregulasies, ongematigde goedkeuring van ‘n begrafnisdiens vir ‘n raadslid en neerhalende uitlatings oor die munisipaliteit op sosiale media.
Die verslag wat voor die raad gedien het, het aanbeveel dat artikel 32 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet toepas word en die persoon verantwoordelik gehou word vir alle ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes.
Die raad het ook besluit om alle kontrakte vanaf 2020 tot en met sy skorsing in 2022 op te skort rakende ‘n ondersoek vir verdere moontlike ongerymdhede.
Die VF Plus het by verskeie geleenthede teen Dyakala gewaarsku en gevra dat sy departement deeglik ondersoek moet word.
Emfuleni gaan reeds gebuk onder finansiële druk en het nie eens die finansiële vermoë om daaglikse dienste te voorsien nie.
Die ANC-regering in Emfuleni het nie die politieke wil om die streek suksesvol te bestuur nie en tree net op teen skuldige amptenare wanneer daar geen ander uitweg is nie.
Die VF Plus sal voortgaan om daarop aan te dring dat streng opgetree word teen munisipale amptenare wat belastinggeld vermors en wanbestee.