Die VF Plus steun die begroting van die Ekurhuleni-metroraad vir die 2022/23 finansiële jaar.
Die party, as deel van die koalisieregering, is ten gunste van die terugkeer na basiese beginsels waar gefokus word op stabiliteit en die lewering van basiese dienste.
Die volgende punte word uitgelig om dienste te help stabiliseer.
• R370 miljoen aan die departement van paaie en stormwater om slaggate te herstel en paaie veiliger te maak.
• R80 miljoen vir die installering van slimmeters in behoeftiges se huise.
• R170 miljoen vir die onderhoud van die metro se vloot voertuie om vinniger reaksietyd te verseker.
• R30 miljoen vir die aanwend vir bouprojekte soos die opgradering van die Katlahong-brandweerstasie.
• R558 miljoen aan die departement van energie om die elektrisiteitnetwerk te verbeter veral in gebiede met verouderde infrastruktuur. Dit sluit R92.2 miljoen in vir die herstel van straatligte.
• R34 miljoen sal aangewend word om te begin met die rehabilitering van sinkgate.
‘n Groot pluspunt vir inwoners is dat eiendomsbelasting nie verhoog word nie.
Ydelheidsprojekte is nie ‘n prioriteit nie en diensleweringsprojekte sal voorkeur geniet.
Die aanbied van geleenthede word ook afgeskaal om geld te bespaar. Een so ‘n geleentheid waarop afgeskaal is, was die onlangse stadsrede.
Daar is ook ‘n aansporing van 2 %-afslag vir inwoners wat oor ses maande hul munisipale rekening getrou betaal.
Ondernemings wat getrou hul rekeninge betaal, sal elke 13 maande ‘n 2 % aansporing ontvang.
Die vorige bedeling se plan om basiese gratis water en elektrisiteit te verminder, word nou in werking gestel. Dit is net van toepassing op geregistreerde behoeftiges.
Die begroting is positief en tot voordeel van inwoners van Ekurhuleni omdat basiese diensleweringsbehoeftes aangespreek word.


