Die VF Plus vra vir sterker vervolging en die maksimum vonnis vir veediefstal in Mpumalanga aangesien dié misdryf nou buite beheer spiraal.
Daar is Dinsdag 11 perde vanaf 'n plaas in Volksrust (Pixley Ka Seme-plaaslike munisipaliteit) gesteel. Dit volg kort op 'n voorval die afgelope naweek waartydens 'n plaasbestuurder in Leandra (Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit) deur gewapende rowers by 'n voerkraal aangehou is. Die verdagtes het met 14 dormerskape gevlug.
In Maart vanjaar is 58 stoetramme, -ooie en -lammers van 'n boer in Belfast/Emakhazeni (Emakhazeni-plaaslike munisipaliteit) gesteel. Die afgelope vyf maande is meer as 300 beeste en skape in die Hoëveld van die provinsie gesteel.
Die geraamde waarde van veeverliese oor hierdie tydperk is meer as R3 miljoen.
Baie van die diere word op die toneel geslag en in sommige gevalle is die vee selfs opgesny terwyl hulle nog geleef het.
Plaaslike boere plaas die blaam vierkantig op die skouers van die polisie wat klaarblyklik nie oor die vermoë beskik om sake op te los nie.
Vir ’n daadwerklike impak op veediefstal móét daar nou na ’n volgende rat oorgeskakel word. Tans is een van die vernaamste bekommernisse en uitdagings die aantal sake wat aangemeld word teenoor die aantal veediewe wat deur die howe skuldig bevind word.
Die misdaadstatistiek, vir die tydperk Oktober tot Desember 2021, toon dat 807 stuks vee in Mpumalanga gesteel is.
Tussen April 2021 en Desember 2021 is 2 260 stuks vee in die provinsie as gesteel aangemeld.
Die VF Plus raai boere aan om ekstra maatreëls in plek te stel om toenemende diefstalle te voorkom. Dit is ook van kardinale belang dat boere by plaaslike veiligheidstrukture inskakel.
Sou hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou en druk toepas tot die saak deur die hof gevoer word.