Die VF Plus steun die samestelling van ʼn geïntegreerde bywettoepassingskomitee vir die Tshwane-metro wat bestaan uit verskeie departemente om toekomstige samewerking te vergemaklik.
Die beamptes het die geleentheid gekry om self die doelwitte van die komitee te bespreek en te bepaal.
Tydens die werksessies is algemene bywet-oortredings, bestaande leemtes in bywet-toepassing, inwoners se tevredenheid met die toepassing van bywette, die behoefte aan oorsig, potensiële wettige en nie-wettige vennote in die bywet-toepassing, hulpbronne wat benodig word en huidige struikelblokke en die vereistes vir die suksesvolle vervolging van bywet-oortreders, bepreek.
Tshwane ondervind ʼn toenemende kultuur van wetteloosheid wat die proses genoodsaak het. Verskeie faktore het gelei tot ʼn toename in misdaad en indien die metro weer ʼn staat van wet en orde wil vestig, moet daar beter koördinering van die toepassing van bywette wees.
Tydens die werksessies is die behoefte geïdentifiseer om ʼn nuwe en verbeterde benadering tot die toepassing van bywette uit te oefen en verskeie departemente se samewerking word daarvoor benodig.
Inwoners is dikwels onder die indruk dat dit net die Tshwane-metro polisiediens (TMPD) se verantwoordelikheid is wanneer dit by wetstoepassing kom.
Bywette kan deur verskeie ander departemente toegepas en afgedwing word terwyl die TMPD ʼn ondersteunende rol speel. Samewerking is belangrik en die doel is om ʼn gesamentlike toepassingsentrum op die been te bring.
Die VF Plus het die hoof van die polisie, kommissaris Yolanda Farao, en haar span van die TMPD bedank vir hul harde werk en wens die geïntegreerde bywettoepassingskomitee sukses en wysheid toe met hul werk en die uitvoering van hul mandaat.