Die VF Plus in die Tshwane-metro tesame met gemeenskapslede het Saterdag hul moue opgerol om boere en ondernemings in die noorde van Pretoria te ondersteun om hul eiendom teen kabeldiefstal te beskerm.
ʼn Groot hoeveelheid kragkabels en transformators is onlangs gesteel en boere moes dae lank sonder krag klaarkom.
Die boere en omliggende inwoners maak van boorgatwater gebruik en kon nie hul pompe gebruik om water te voorsien nie.
ʼn Bekende kwekery in die gebied is een van die ondernemings wat deurgeloop het toe twee van hul transformators die afgelope week gesteel is.
Inwoners en VF Plus-ondersteuners het bymekaargekom om met stootskrapers slote toe te gooi wat reeds deur die diewe oopgegrawe is om nog kragkabels te steel.
Kragpale is met sement vasgeanker en ook met teer geverf om te voorkom dat diewe die pale afsaag, transformators steel en kragkabels oopgrawe.
Die gras is gesny om sigbaarheid te verseker.
Inwoners het selfs ʼn patrolliediens op die been gebring om hul infrastruktuur te beskerm.
Die VF Plus het die gemeenskap geprys vir hul harde werk om hul eiendom te beskerm. Selfs ʼn hond is as spoorsnyer opgelei om diewe wat in die gras skuil, op te spoor.
Hierdie is ʼn voorbeeld van samewerking en selfbeskikking wat lei tot die veiligheid van ʼn gemeenskap.