Uit die negatiewe reaksie van gemeenskapslede tydens die toespraak van die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, verlede Vrydag (15 Maart), is dit duidelik dat die gemeenskap van Musina vertroue verloor het in die ANC se beloftes oor water.
Dit kom nadat Suid-Afrika en Zimbabwe verlede week ‘n ooreenkoms onderteken het om ‘n maksimum van 15 miljoen kubieke meter behandelde water per jaar vanaf die Beitbrug-watersuiweringswerke aan Musina te verskaf.
Daar is verlede Vrydag ’n gemeenskapsvergadering gehou by die Musina-skougronde om aan inwoners terugvoer te gee rondom vordering wat gemaak is om watervoorsiening-uitdagings in dié gebied aan te spreek.
Die vergadering vorm ook deel van die departement van water en sanitasie se jaarlikse nasionale Watermaand (Maart) en is bygewoon deur die minister en sy adjunkte, David Mahlobo en Judith Tshabalala, saam met amptenare van die Vhembe-distriksmunisipaliteit (Musina, Louis Trichardt).
Die VF Plus se plaaslike raadslid, mnr. Paul Herman, het ook die vergadering bygewoon.
Verrigtinge is onderbreek en sommige lede van die gemeenskap wou nie eens enige spreker kans gee om te praat nie. Een ANC-spreker is selfs met geweld van die verhoog verwyder.
Intussen het die VF Plus weer sy klag teen Vhembe rondom die voortslepende waterprobleme by die menseregtekommissie (MRK) opgevolg en ’n skrywe gerig aan die MRK se senior regsbeampte, mnr. Badantswana Munei, vir dringende terugvoer oor die regsprosedure wat tans gevolg word.
Die party sal sy druk volhou en die gemeenskap op hoogte hou van vordering met die klag.