Die VF Plus verwelkom die inhegtenisname van drie werknemers van die Tshwane-metro wat na bewering betrokke was by die diefstal van ʼn transformator by die Claudius-substasie in Laudium.
Die inhegtenisname volg ná ʼn voorval in November verlede jaar toe amptenare van die metro se elektrisiteitsdepartement op heterdaad betrap en aangekeer is.
Die verdagtes is betrap nadat waaksame lede van Laudium se gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) die owerhede ingelig het oor verdagte aktiwiteite by die substasie.
Die waarde van die betrokke infrastruktuur word op sowat R7 miljoen geraam.
Die VF Plus spreek sy waardering uit teenoor die Tshwane-metropolisie (TMPD), die ondersoekspan van die polisie en alle ander rolspelers wat vinnig en doeltreffend opgetree het.
Hierdie daad van aktiewe burgerskap is voorbeeldig en dien as ’n duidelike waarskuwing aan munisipale werknemers dat daar ’n gesamentlike en doelgerigte poging is om alle vorme van onwettige aktiwiteite, groot of klein, te bekamp.
Misdaad sal nie geduld word nie en oortreders sal verantwoording moet doen.
Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners om enige verdagte gedrag rondom munisipale infrastruktuur, die beskadiging van munisipale voertuie, metervervalsing, beskadiging van eiendom of afpersing deur munisipale personeel onmiddellik aan te meld.
Gebruik asseblief Tshwane se teen-bedrog- en korrupsie-hulpnommer 080 TSHWANE (080 874 9263) om dit aan te meld.
Die VF Plus hoop op ʼn spoedige hofproses en dat die straf as ʼn afskrikmiddel sal dien vir ander oortreders.