Die VF Plus verwelkom Limpopo se padagentskap se beplande herstelprojek aan die gehawende R519-pad (P134/2) tussen Naboomspruit en Roedtan in die Modimolle Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit, Roedtan, Alma, Vaalwater.)
Die VF Plus-LPW in Limpopo, Marcelle Maritz, het vroeër vanjaar ’n lys van al die gehawende paaie in die provinsie aan die padagentskap gestuur en versoek dat beplanning rondom die herstel van die paaie bekend gemaak word.
Luidens die agentskap se terugvoerverslag op 2 Augustus, was die herstel van die R519-pad se ontwerpe voltooi en die projek was in die aanvanklike stadiums van implementering.
Ná volgehoue druk van die VF Plus op provinsiale vlak, het die agentskap vandag sy herstelprojek geloods en is die projek aan die kontrakteur oorhandig.
Sowat R19 miljoen is begroot vir fase 1 van die projek in die 2023/24-finansiële jaar.
Fase 1 van dié projek behels die voorkomende instandhouding van die eerste 3km en sluit onder meer die volgende in:
- skoonmaak en hervorming van bestaande dreine,
- konstruksie van gevoerde dreine, geute, inlaat- en uitlaatstrukture,
- rekonstruksie van skouers en hervorming van bestaande skouers,
- bykomstige werke (padmerke, padtekens en algemene afwerking).
Die VF Plus sal die vordering van die herstelwerk deurgaans monitor.


