Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bela weer vertraag: Uitstel wek vrae

Daar is nie duidelik waarom die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) in finale vorm môre aan die parlementêre portefeuljekomitee, skielik uitgestel is nie.

Die voorlegging sou die laaste stap in die komiteeproses wees en dié uitstel skep onsekerheid of dié wetsontwerp ooit wet sal word.

Na ‘n uitgerekte proses is alle veranderings wat na aanleiding van die openbare deelnameproses en komiteeverrigtinge aan die wetsontwerp aangebring sou word, verlede week aan die portefeuljekomitee voorgelê.

Een mediakanaal het die wysigings van klousules 4 en 5 vertolk as ‘n U-draai deur die regering, omdat provinsiale departementshoofde dan nié die finale seggenskap oor skole se taal- en toelatingsbeleid sou kry nie.

Dit was egter ‘n vergissing, aangesien die toegewing bloot was dat alle beleide in dié verband nie meer aan provinsiale departemente voorgelê hoef te word nie. In geval van ‘n dispuut is die finale besluit hiervolgens steeds die departementshoof s’n.

Daar is steeds instellings wat bereid is om hierdie bepalings hof toe te neem.

Die groen lig van die portefeuljekomitee sou beteken dat die wetsontwerp aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê sou word en met aanvaarding sou provinsiale wetgewers dit moes oorweeg.

Daarná kan dit na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys word – die laaste stap voor die president dit teken.

Die tyd vir hierdie prosesse is beperk. Daar lê nog een parlementêre termyn vanjaar en een in volgende jaar voor, voor die verkiesing na verwagting in Mei 2024 plaasvind.

Dit is redelik om te verwag dat, indien die ANC vertroue in die grondwetlikheid van die wetsontwerp het, hy geen gras onder sy voete sal laat groei om dit deur die prosesse te voer nie.

Indien die verkiesing plaasvind voordat dit afgehandel is, moet die proses van voor af begin.

Die VF Plus het deurentyd teen hierdie wetsontwerp weerstand gebied. Buiten praktiese gevolge, verteenwoordig die wetsontwerp ‘n breuk met die skikking van 1994, waarvan gemeenskapsbeheerde skole ‘n wesenlike deel was.

Nadat daar oor die afgelope weke lang ure binne en buite die portefeuljekomitee aan die wetsontwerp afgestaan is, is die huidige voeteslepery verrassend.

Aanvanklik kon mens vermoed dat Bela ‘n belangrike onderwerp in die ANC se verkiesingsveldtog sou wees. Die party sou dit kon voorhou as bewys van sy toewyding tot onderwys.

Nou ontstaan die vraag of dit die teenoorgestelde uitwerking sal hê as ‘n saak daaroor kort voor die verkiesing in die Grondwethof verloor sou word.

Intussen moedig die VF Plus skoolbeheerliggame aan om hulle regeertaak noukeurig en met toewyding te vervul. Dit is die belangrikste argument teen die stroping van hul magte.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.