Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria dat die ondertekening van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op hersiening geneem mag word.
President Cyril Ramaphosa het dit twee weke voor verlede jaar se algemene verkiesing onderteken ten spyte van die waarskuwings van belangegroepe, insluitende politieke party soos die VF Plus, ʼn wye groepering burgerlike organisasies en mediese kundiges, dat die NGV ongrondwetlik is.
Die VF Plus het met die behandeling van die wetsontwerp in die portefeuljekomitee vir gesondheid reeds gewaarsku dat die party se ingediende regsmening daarop wys dat die NGV-wetsontwerp ongrondwetlik is.
Die NGV is ʼn onrealistiese droom waarmee die ANC die illusie wil skep van wêreldklas-gesondheidsorg vir elke persoon in Suid-Afrika. Dit is nie moontlik nie. Die land se totale gesondheidstelsel sal uiteindelik in duie stort.
Pres. Ramaphosa se ondertekening van die NGV kort voor verlede jaar se verkiesing was ʼn foefie om vir miljoene werklose kiesers ʼn onuitvoerbare belofte te maak om hul stemme te kry. Dit het nou in die ANC se gesigte ontplof.