Die VF Plus verwelkom die Ekurhuleni-metro se nuwe Fixing the Frontline-program, wat vandag deur die nuut aangestelde stadsbestuurder, mnr. Kagiso Lerutla, bekendgestel is.
Die party beklemtoon egter dat die ware maatstaf van sukses nie in aankondigings lê nie, maar in tasbare verbeterings op straatvlak
Die inisiatief beoog om doeltreffendheid en professionaliteit by munisipale depots te herstel, depots beter toe te rus en te verseker dat gemeenskappe betroubare en volhoubare dienslewering ontvang. Die program plaas ook klem op die welstand en ontwikkeling van munisipale werkers.
Die party hoop opreg dat hierdie program ’n werklike keerpunt vir inwoners van Kemptonpark en die res van Ekurhuleni sal wees, veral wat elektrisiteitsdienste betref.
Inwoners ly al jare onder langdurige kragonderbrekings, infrastruktuurfoute, vandalisme en stadige reaksietye. Indien die program suksesvol in werking gestel kan word, kan dit tasbare verligting bring.
Die VF Plus sal veral wil sien dat beter kommunikasie met inwoners ’n prioriteit word, sodat mense tydens onderbrekings beter kan beplan.
Slegs sigbare veranderinge op straatvlak, wat insluit vinnige reaksie op probleme, volhoubare infrastruktuuronderhoud en duidelike verantwoordbaarheid, sal egter bepaal of die program werklik slaag.
Die VF Plus in Ekurhuleni bly toegewy aan konstruktiewe toesig en sal die program noukeurig monitor om te verseker dat dit werklik tot meetbare verbeterings in dienslewering vir inwoners lei.


