Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Johannesburg se sabotering van sonkragverbruikers sterk veroordeel

Die VF Plus veroordeel ten sterkste die Johannesburg-metro se voornemens om inwoners met voorafbetaalde meters wat in sonkrag belê het, te dwing om terug te skakel na konvensionele meterlesings en faktureringstelsels.

Indien die ANC-geleide regering in die metro met hierdie plan voortgaan, is dit dalk tyd om die howe te betrek.

Hierdie besluit kom neer op verbruikersabotasie en is nog ’n voorbeeld van wanadministrasie wat die belange van wetsgehoorsame inwoners wat hul rekening elke maand betaal, benadeel.

Duisende Johannesburgse inwoners het op eie koste na sonenergie oorgeskakel as direkte gevolg van die metro se versuim om betroubare elektrisiteit te voorsien.

In stede daarvan om innovasie, selfstandigheid en verminderde druk op die kragnetwerk aan te moedig, poog die metro nou om hierdie huishoudings te penaliseer met gedwonge meteromskakelings, administratiewe struikelblokke en moontlik hoër en onvoorspelbare rekeninge.

Die VF Plus is van mening dat hierdie beleid nie oor tegniese noodsaaklikheid gaan nie, maar oor beheer en inkomste-invordering.

Voorafbetaalde meters bied deursigtigheid en sekerheid aan verbruikers, terwyl na-betaalde fakturering in Johannesburg ’n lang geskiedenis van onakkurate rekeninge, opgeblase bedrae en onopgeloste dispute het.

Om inwoners terug te dwing na ’n gebroke faktureringstelsel is daarom onaanvaarbaar.

Hierdie stap stuur ook die gevaarlike boodskap uit dat inwoners wat verantwoordelikheid neem vir hul eie energie-sekuriteit, gestraf sal word, terwyl munisipale wanbestuur sonder gevolge voortduur.

Daar is wel verbruikers wat met hul meters peuter om die netwerk te omseil. Die metro is welkom om hulle terug te skakel na die ou meters en maandelikse fakturering.

In ’n tyd waar die metro alternatiewe energie-oplossings behoort aan te moedig, doen hy presies die teenoorgestelde.

Die VF Plus doen ’n beroep op die Johannesburgse metro om enige planne om sonkraggebruikers met voorafbetaalde meters te dwing om terug te keer na die na-betaalde stelsels, onmiddellik te staak.

Betekenisvolle openbare konsultasie, duidelike regverdiging en verbruikersbeskerming moet eerste kom.

Johannesburg se inwoners verdien ’n regering wat saam met hulle werk, nie een wat hulle benadeel nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.