In ‘n uiters belangwekkende plasing op sosiale media, het die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, aangekondig dat ‘n ooreenkoms oor die omstrede Bela-wet by Nedlac bereik is.
Die VF Plus is verheug daaroor en wens Solidariteit daarmee geluk.
Volgens Hermann se plasing sal die omstrede bepalings van die wet oor taal- en toelatingsbeleid nie op 13 Desember in werking tree nie. Voordat dit kan gebeur, moet die departement van basiese onderwys eers beleidstukke opstel.
Dit sal onder meer inhou dat die bepalings nie op skole wat reeds vol is, afgedwing kan word nie.
Hierdie deurbraak volg op ‘n openbare deelnameproses van die parlement waartydens teenstand teen die destydse wetsontwerp sterk na vore gekom het.
Die ANC het dit egter voor die verkiesing van 29 Mei 2024 deur die parlement gejaag om die gevolge van ‘n ongunstige verkiesingsuitslag (uit ANC-oogpunt) te ontwyk.
Die opkoms van meer as tienduisend mense wat by die Voortrekkermonument hieroor geprotesteer het, het dit duidelik gemaak dat die wet ‘n probleem is wat nie sal verdwyn nie.
Die VF Plus beskou hierdie deurbraak as bewys dat politieke- en burgerlike druk nog altyd die werklikheid kan beïnvloed.


