Die VF Plus eis dat die munisipale bestuurder, Sello More, en die Mangaung-metro antwoorde verskaf oor die wydverspreide water- en kragonderbrekings wat inwoners die afgelope twee weke lamgelê het.
Die party eis in ‘n brief aan die burgemeesterskomiteelid vir ingenieurswese en infrastruktuur, Vusi Soqaga, dat hy en die komitee hul mandaat en verantwoordelikhede nakom en ‘n vergadering belê sodat die relevante departementshoofde dringend antwoorde kan verskaf oor die werklike oorsake van die herhaalde onderbrekings, die tydsraamwerk vir oplossings en die voorsorgmaatreëls om verdere onderbrekings te voorkom.
Die omvang van hierdie onderbrekings, wat die hele metro raak, beklemtoon die diepgewortelde vervalle infrastruktuur wat onmiddellike aandag verg.
Net so ontstellend is die metro se onvermoë om effektief met inwoners te kommunikeer oor die situasie.
Die VF Plus sal ook in die Vrystaatse wetgewer eis dat die metro en die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) dringend die diensleweringskrisis in die metro aanspreek.
Met Desembermaand wat voorlê en die verwagte afname in personeel gedurende die feesseisoen, voorspel die party groot frustrasies vir inwoners wat nie kan beplan of voorsorg tref te midde van die voortdurende onderbrekings nie.
Inwoners verdien nie net oplossings nie, maar ook deursigtige kommunikasie. Dit is tyd dat munisipale amptenare verantwoording doen teenoor die raad en die publiek.
Die VF Plus is daartoe verbind om die lewenskwaliteit van inwoners te verbeter en sal aanhou druk uitoefen op die metro om met hierdie ernstige uitdagings te handel.


