Die VF Plus verwelkom die straf van vyf verdagtes wat betrek is by die grusame moord op die 65-jarige Vrystaatse boer, Michael Andrew Pattinson.
Pattinson is in Julie verlede jaar op sy plaas aangeval. Die verdagtes het hom met geweld in die kattebak van sy eie Toyota Cruiser gedwing en hom na die Tseseng-gebied in Qwaqwa geneem waar hy wreed vermoor is.
Die VF Plus verwelkom veral die puik ondersoekwerk van die polisie wat daartoe gelei het dat die vyf verdagtes reeds die volgende dag in hegtenis geneem is. Hierdie deeglike werk het gelei tot hul suksesvolle vervolging en tronkstraf.
Dit wys weereens as die polisie toegelaat word om te dien en te beskerm, sonder politieke inmenging en binne behoorlike dissiplinêre norme, dit wel moontlik is om plaasaanvallers of -moordenaars suksesvol te vervolg.
Te veel plaasaanvalle eindig nie in skuldigbevindings of vonnisse nie. Hierdie suksesvolle vervolging behoort as ’n duidelike waarskuwing aan misdadigers te dien dat hulle nie met plaasmoorde sal wegkom nie.
Die VF Plus sal aanhou veg vir beter polisiëring en meer steun vir plaasgemeenskappe om veiligheid en regverdigheid te verseker.


