Die VF Plus verwelkom die bevindinge van die Nexus-forensiese verslag oor beweerde onreëlmatighede, wangedrag, korrupsie en tenderbedrog in die Swellendam-plaaslike munisipaliteit.
Die party se raadslid in Swellendam het drie jaar gelede snuf in die neus gekry en begin met ‘n ondersoek wat uitgeloop het op die Vermaak-verslag waarin persone en onreëlmatighede uitgewys is. Die verslag is opgevolg met ‘n ondersoek wat uitgeloop het op die bevindinge in die Nexus-verslag wat vandag weer voor die raad dien.
Alhoewel die VF Plus voorbehoude het oor enkele gebreke in die Nexus-ondersoek, is die positiewe uitkomste daarvan dat die munisipaliteit tekortkominge in sy voorsieningsketting-bestuurstelsels kan regstel, korrupte verhoudings kan beëindig en klagtes ingedien word teen persone wat uitgewys is. Die reg sal nou sy loop neem wanneer die polisie die Valke en ander statutêre liggame hulle ondersoeke doen en strafregtelike klagtes aanhangig gemaak word.
Dit blyk egter dat ondersoekers nie alle betrokkenes ondervra het nie.
Die VF Plus vertrou dat dit reggestel sal word in die loop van die strafregtelike ondersoeke wanneer getuies en verdagtes ondervra word, getuienis na vore kom en dat verdere aanklagte sal volg waar van toepassing.


