Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni se R0-onteiening val plat – ʼn waarskuwing teen ideologiese misbruik

Die Ekurhuleni-metro se poging om privaat eiendom teen R0 te onteien het nie net misluk nie, maar liederlik in sy gesig ontplof.

Hierdie fiasko ontbloot die ideologiese dryfkrag wat agter onteiening sonder vergoeding (OSV) skuil en dien as ’n nasionale waarskuwing teen die roekelose politieke eksperimente wat eiendomsreg en die Grondwet ondermyn.

Vir jare probeer die regerende party en sekere opposisiefigure die fabel verkoop dat “nul rand” as vergoeding kan kwalifiseer. Dit is ekonomies onhoudbaar, grondwetlik onregverdigbaar en moreel onaanvaarbaar.

Die ineenstorting van die Ekurhuleni-projek toon wat gebeur wanneer eiendomsreg as ’n hinderlike detail behandel word, eerder as die hoeksteen van demokrasie.

Die metro wou 34 hektaar in Driefontein, met ’n waarde van sowat R30 miljoen, probeer gryp onder die dekmantel van ’n behuisingsprogram met geen behoorlike ondersoek, geen omgewingsstudies, geen artikel 25-proses, geen respek vir die eienaar, die howe of die Grondwet nie.

Die metro het nou skielik van deuntjie verander nadat die Gautengse departement van landbou en omgewingsake die projek afgekeur het weens vleilande in die gebied, grondwater-onstabiliteit, vloedrisiko’s en die moontlike vorming van sinkgate.

Wat as “strategiese onteiening” bemark is, het oornag ʼn “omgewingsmisverstand” geword.

Die werklikheid is dat Ekurhuleni geweet het hy sou die hofsaak verloor en miljoene aan skadevergoeding en regskoste moes opdok.

Die VF Plus se standpunt is nog altyd dat eiendomsregte ononderhandelbaar is. Dit vorm die fondament vir ekonomiese groei, beleggersvertroue, voedselsekerheid en persoonlike vryheid.

Die Ekurhuleni-ommekeer is dus nie ’n oorwinning vir die administrasie nie, maar vir die Grondwet en die oppergesag van die reg.

Die VF Plus sal die stryd voortsit vir eiendomsregte, vir grondwetlikheid en vir ’n Suid-Afrika waar die regering nie neem wat dit nie kan bou, beplan of bestuur nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.