Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

94% van uitreikverbintenisse steeds uitstaande in Ekurhuleni-burgemeester se program

Wat as ’n vlagskip-uitreikprogram bemark is, het in die praktyk ontaard in ’n reeks duur fotosessies en politieke teater.

Die eerste kwartaalverslag vir die 2025/26-finansiële jaar wys dat die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Nkosindiphile Xhakaza, se sogenaamde uitreikprogram nie ’n enkele verbintenis voltooi het nie.

Luidens die verslag toon slegs 6% van verbintenisse minimale vordering, terwyl ’n verstommende 94% steeds heeltemal uitstaande is.

Nog meer ontstellend is dat die verslag bevestig dat nie een burgemeesterskomiteelid gedurende die hele kwartaal ’n enkele oorsigbesoek aan enige wyk gedoen het nie, ten spyte daarvan dat die program as die metro se vlagskip-inisiatief vir gemeenskapsbetrokkenheid bemark word.

Wanneer 94% van verbintenisse onaangeraak bly, waar burgemeesterskomiteelede geen toesig hou nie, en wanneer departemente slegs optree op die vooraand van die burgemeester se besoek, word dit duidelik dat die uitvoerende gesag meer geïnteresseerd is in beeldbou as in werklike uitkomste.

Die verslag onthul verder dat die burgemeesters se taakspan, wat belas is met die koördinering van opvolgoptrede op uitreikverbintenisse, nie gereeld vergader het nie en slegs twee oorsigbesoeke uitgevoer het.

Die VF Plus eis antwoorde en wil weet hoe die uitvoerende gesag beweer dat dienslewering voorkeur geniet, terwyl geen burgemeesterskomiteelid ’n enkele oorsigbesoek gedurende die kwartaal gedoen het nie.

Die gesag moet ook verduidelik waarom die taakspan nie gereeld vergader nie, en moet sê wie vir hierdie wanfunksionering verantwoordelik gehou word.

Die VF Plus wil ook van die uitvoerende gesag weet watter gevolgbestuur toegepas is teen departemente wat uitreikverbintenisse ignoreer?

Voorts wil die VF Plus weet wanneer ’n befondsde, tydgebonde plan aan die raad voorgelê gaan word om te verseker dat hierdie verbintenisse werklik uitgevoer word.

Die VF Plus is van mening dat dit nie ’n uitreikprogram is nie, maar ’n mislukte politieke vertoning.

Inwoners van Ekurhuleni verdien meer as beloftes en fotosessies. Hulle verdien werklike dienslewering.

Die VF Plus sal aanhou om wanprestasie bloot te lê en ’n bestuursmodel te eis wat aanspreeklikheid en werklike dienslewering vooropstel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.