Die VF Plus het die uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), Babalwa Lobishe, versoek om ʼn deeglike ondersoek te laat instel na die reeks brande wat die metro die afgelope twee maande geteister het.
Alhoewel warm en droë somertoestande die risiko vir veld- en bosbrande verhoog, wek die aard en tydsberekening van verskeie voorvalle ernstige kommer. Ten minste een vermeende brandstigter is reeds in hegtenis geneem.
Die brande het wesenlike skade aangerig aan onder meer die kragsubstasie in Summerstrand en gelei tot die sluiting van dele van die N2 met ʼn multivoertuig-ongeluk weens swak sigbaarheid.
Hierdie voorvalle het gemeenskappe in onsekerheid gelaat en brandbestryders en nooddienste onder die uiterste druk geplaas.
Die VF Plus dring daarop aan dat brand- en reddingsdienste, wetstoepassers en forensiese kundiges saamwerk om vas te stel of die brande doelbewus begin is en om verantwoordelike partye aanspreeklik te hou.
Duidelikheid oor die oorsake is noodsaaklik om openbare vertroue te herstel en toekomstige risiko’s te verminder.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen dat die veiligheid van inwoners eerste gestel word en dat die metro proaktief en deursigtig optree.


