Die VF Plus het ‘n dringende versoek tot die minister van toerisme, me. Patricia de Lille, gerig om die nodige stappe te neem om te verseker dat gemeenskappe en verál toeristeoorde op die oewers van die Vaalrivier nie weer weens die nalatigheid van waterowerhede deur vloede verwoes word nie.
In Februarie 2023 is tienmiljoene rande se skade aan oorde langs die Vaalrivier aangerig nadat hulle onverwags deur ‘n sterk vloed oorval is.
Dit het destyds vinnig duidelik geword dat dit grootliks te wyte was aan gebrekkige koördinering tussen verskillende owerhede verantwoordelik vir die regulering van die uitvloei van die Vaaldam.
Deur was ook geen tydige kommunikasie met inwoners, plaaslike owerhede of toeristeoorde aan die oewers van die rivier nie.
Die ramp het enorme skade aangerig talle werksgeleenthede vanaf Lindequesdrif tot anderkant Bloemhof in die slag laat bly. Talle van die ondernemings het steeds nie ten volle van die skade herstel nie.
Die VF Plus het nou onder meer versoek dat minister De Lille seker maak dat die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, direk ingryp by die verantwoordelike waterowerhede om ‘n herhaling van die ramp te voorkom.