Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verskerp oorsigrol in Gauteng met twee komiteevoorsitters

Die VF Plus verskerp sy oorsigrol en dryfkrag vir ekonomiese groei in Gauteng met die aanwysing van twee van die party se LPW’s as komiteevoorsitters in die wetgewer.

Die aanwysings is gedoen nadat die VF Plus aangedui het dat hy geen uitvoerende gesagsposisies in die Gautengse regering van provinsiale eenheid (RPE) wil hê nie, maar wel bereid is om ʼn belangrike oorsigrol te speel as voorsitters van die wetgewer se ekonomiese komitees om die provinsiale regering verantwoordbaar te hou.

Mnr. Jaco Mulder is aangewys as die voorsitter van die landbou-, landelike ontwikkelings- en omgewingsakekomitee.

Adv. Anton Alberts is aangestel as voorsitter van die ekonomiese ontwikkelingskomitee.

Die ernstige gebrek aan ekonomiese groei en werkskepping is een van die groot oorsake van die sosio-ekonomiese agteruitgang wat Gauteng in die gesig staar.

Daarby is Gauteng die ekonomiese hartkamer van die hele land en moet die provinsie die pas aangee om die nasionale ekonomie om te draai. Daarom is die skep en uitvoer van bewese ekonomiese beleid van kardinale belang.

Die ekonomiese ontwikkelingskomitee en die landbou-, landelike ontwikkelings- en omgewingsakekomitee speel albei ‘n baie belangrike rol om ekonomiese groei en werkskepping in Gauteng te bevorder.

Die voorsitters van die twee komitees het heelwat invloed om die Gautengse regering verantwoordbaar te hou en kan ‘n sterk invloed uitoefen oor sy beleid en die implementering daarvan.

Die magte van die VF Plus-voorsitters in hierdie twee komitees is wesenlik aangesien hulle die program, agendas en strategiese fokuspunte kan bepaal.

Die voorsitters kan ook oorsigbesoeke reël by enige provinsiale regeringsdepartemente, -entiteite en -projekte en kan in diepte ondersoeke van stapel stuur. Daarby het die voorsitters die mag om die premier en betrokke LUR’e na die komitee te ontbied om te rapporteer oor tersaaklike regeringsake en om vrae te beantwoord.

Die voorsitters kan selfs die komitee opdrag gee om konsepbeleid te ontwikkel om aan die provinsiale regering voor te lê en provinsiale wetgewing te skep om in te dien by die wetgewer.

Beide Mulder en Alberts het voorheen afsonderlik as lede gedien in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid tydens hul tydperke as parlementslede en het dus baie ervaring opgedoen wat die nasionale ekonomiese ontwikkeling van die land betref en wat handig te pas sal kom in pogings om Gauteng se ekonomiese trajek te verbeter.

Die VF Plus gaan onder meer sorg dat daar baie meer geskakel word met die privaat sektor sodat hul insette verkry kan word om die grondslag te lê om regeringsbeleid te beïnvloed en toekomstige vennootskappe met die Gauteng-regering daar te stel.

Die VF Plus wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die swak rentmeesterskap oor die Gautengse ekonomie en die reuse werkloosheid aan te spreek op ‘n wyse wat spoedig resultate kan lewer tot voordeel van die inwoners van die provinsie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.