Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verdoem waterkrisis in Emfuleni wat daagliks vererger

Die VF Plus verdoem die waterkrisis in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) wat daagliks vererger.

Dit blyk dat die agtien maande lange ingryping van die provinsiale en nasionale regering ingevolge artikel 63 van die Waterdienstewet, nie enige vrugte afwerp om die groeiende krisis om te keer nie.

Alhoewel die ingryping beplan word tot Oktober 2024, word die moontlikheid reeds genoem dat die proses verleng gaan word weens swak dienslewering.

Emfuleni verloor tans ‘n skrikwekkende 63,7% van sy watervoorraad weens onder meer meterdiefstal en verouderde infrastruktuur wat bydra tot waterlekkasies.

Daarby is wanbetaling deur dele van die gemeenskap aan die orde van die dag en verloor die munisipaliteit inkomste weens die enorme verlies van water wat nie aan die gemeenskap verskaf word nie.

Randwater verskaf ook net 60% van wat Emfuleni benodig aan die gemeenskap weens die beperkinge wat Randwater self moet instel en weens Emfuleni se watervermorsing.

‘n Voorbeeld van die omvang van die waterkrisis is die kaping van drie bakkies in Sebokeng uit die 14 wat Randwater geskenk het om die waterinfrastruktuur te diens. Sebokeng kry meer aandag as ander dele van Emfuleni en daarom is dit skreiend dat die voertuie juis daar waar hulp aangebied word, gekaap is.

Ten spyte van enorme bedrae wat vir waterprojekte in Emfuleni geoormerk is, bly die krisis groter word.

Die nasionale departement van water en sanitasie het R7,6 miljard begroot spesifiek vir die rioolkrisis en daarby was nog R5 miljard geoormerk vanuit die provinsiale toekenning vanaf die nasionale regering.

Laasgenoemde begroting was juis bedoel vir al die 44 pompstasies en wateraanlegte. Ten spyte van die finansiële hulp gaan dit beroerd met die lewering van dienste.

Daar is reeds sewe maande gelede kontrakteurs aangestel om aan pompstasies 2, 8, 9 en 10 te werk, maar net 7% van die werk is tot dusver gedoen.

Water loop steeds daagliks in die strate af en word tot twee weke gelos voordat enige lekkasie herstel word.

Dienslewering word verder vererger deur die alewige arbeidsdispute van werkers en Randwater se gesloer om kontrakteurs aan te stel wat tot ses maande of meer kan duur.

Daarom laat die besoek van die presidensie aan Emfuleni eintlik ‘n bitter smaak in die mond van die inwoners. Slegs mooi prentjies word geskets en leë beloftes word gemaak.

Die VF Plus sal voortgaan met sy stryd om Emfuleni werklik weer leefbaar te maak. Die inwoners van dié munisipaliteit verdien beter as die ANC.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.