Die VF Plus betwyfel dit of alle maatskaplike nieregeringsorganisasies (NRO’s) wie se befondsing voorheen deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, besnoei is, weer ten volle befonds is deur die Gautengse regering.
Lesufi het aan die begin van die jaar die tradisionele befondsing van NRO’s verskuif na dwelmrehabilitasie-, opleiding- en werkskeppingsprojekte. Lesufi het die plan laat vaar na ‘n groot teenreaksie vanuit die publiek.
Die VF Plus is egter bekommerd dat nie alle NRO’s wel weer befondsing ontvang het nie en het daarom skriftelike vrae hieroor gerig aan die provinsiale LUR vir maatskaplike ontwikkeling, mej. Mbali Hlope.
Hlope het in ‘n geskrewe antwoord aan die VF Plus bevestig dat alle maatskaplike hulporganisasies nou weer befonds is, maar met die kwalifikasie dat dit net diegene is wat goedgekeur is en voldoen aan die departement se vereistes.
Hierdie vereistes word ook gestel deur middel van wetgewing soos die Wet op Ouer Persone 13 van 2006 en die Kinderwet 38 van 2005.
Dit is derhalwe moontlik dat organisasies wat voorheen wel befondsing ontvang het, intussen die vermoë om te kwalifiseer verloor het juis weens die vorige besnoeiings wat deur Lesufi afgedwing is. Die LUR het nie aangedui watter NRO’s is negatief geraak nie.
Die VF Plus sal ‘n lys aanvra van NRO’s wat nie meer kwalifiseer nie ten einde vas te stel hoeveel skade Lesufi se optrede onder broodnodige NRO’s geskep het.
Op ‘n verdere vraag van die VF Plus of die departement ook befondsing verskaf vir ondersteuningspersoneel bo en behalwe vir maatskaplike werkers, het Hlope geantwoord dat alle personeel van kwalifiserende NRO’s se salarisse ook befonds word.
Dit is goeie nuus aangesien daar NRO’s was wat gekla het dat nie alle personeel meer befonds word nie. Die VF Plus sal wel ook poog om by verskeie NRO’s na te gaan of die befondsing wel geskied.
Die VF Plus is natuurlik baie bekommerd oor die aantal NRO’s wat hul deure moes sluit weens Lesufi se ondeurdagte planne om besnoeiings toe te pas.
Die VF Plus het daarom ook vir Hlope gevra watter stappe haar departement gaan neem om die skade te herstel wat die besnoeiings veroorsaak het.
Haar antwoord was basies ‘n skoueroptrekkende reaksie waar sy dit stel dat die departement bloot nuwe NRO’s sal ondersteun en indien daar nie genoeg bestaan nie, sal die departement self betrokke raak.
Dit is baie duidelik dat die ANC-regering in Gauteng groot skade aangerig het aan die maatskaplike stelsel, maar steeds nie verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar nie.
Die VF Plus sal gevolglik probeer vasstel wat die werklike omvang van die skade is om NRO’s wat befondsing geweier word, by te staan.
Dit is tyd vir die gevoellose en argelose ANC-regering in Gauteng om vervang te word tydens die 2024-verkiesing met ʼn verantwoordelike koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.


