Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Adj.pres Mashatile oor plaasaanvalle: Net meer vae beloftes

Terwyl plaasaanvalle en -moorde oor dekades reeds ʼn groeiende bloedspoor op die Suid-Afrikaanse landskap laat en selfs die buiteland toenemend daarvan kennis neem, is daar net meer vae beloftes van die ANC-regering oor optrede om dit te voorkom.

Die VF Plus het adj.pres. Paul Mashatile vandag in die nasionale raad van provinsies (NRP) daarop gewys dat die organisasie Human Rights Watch oor die voorkoms van plaasaanvalle sedert 1994 noem dat daar ʼn sigbare gebrek aan regeringsoptrede hieroor bestaan.

Luidens statistiek van die Transvaalse Landbou Unie (TLU) was daar in Januarie vanjaar landwyd 18 aanvalle en 2 moorde, in Februarie 15 aanvalle en 2 moorde, in Maart 17 aanvalle en 4 moorde, in April 8 aanvalle en 6 moorde, in Mei 9 aanvalle en 2 moorde, in Junie 12 aanvalle en 10 moorde en in Julie 15 aanvalle en 4 moorde. Tot en met 26 Augustus was daar 10 aanvalle en 2 moorde.

Dit is ʼn totaal van 104 aanvalle en 32 moorde en die slagoffers is wit en swart. Hierdie koue syfers, al is dit hoe skokkend, vertel boonop nie die volle verhaal van die gevoellose brutaliteit wat met die aanvalle gepaard gaan nie.

Mense word ure lank wreed gemartel en onder meer met warm kookolie en strykysters gebrand. Dit is deel van die tragedie.

Die VF Plus wou hierop van die adj.pres weet watter optrede in plek is om hierdie aanvalle wat ook voedselsekerheid bedreig, te voorkom.

Adj.pres. Mashatile se antwoord hierop was dat die polisie aangesê is om te fokus op verskeie soorte misdaad soos onwettige myners en plaasaanvalle.

Wat onwettige myners aanbetref, het hy gesê daar het reeds “groot optrede” van die polisie begin en ʼn spesiale operasie het reeds in Soweto afgeskop om misdaad te bekamp. Hy “glo” dieselfde sal met plaasaanvalle gebeur.

Dit maak dit vir die VF Plus duidelik dat Mashatile met woorde speel en dat daar steeds geen tasbare plan is om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree nie. Daar is net die gewone vae ondernemings en beloftes.

Dit boesem geen vertroue in nie en die VF Plus maan daarom die publiek, veral wat die landelike gemeenskap aanbetref, om hulself te bemagtig en pro-aktief op te tree eerder as om ʼn volgende slagoffer te wees.

Die VF Plus sal nooit ophou om die erns van plaasaanvalle te belig en om die internasionale gemeenskap daarvan bewus te maak nie.

Ná dertig jaar sonder enige daadwerklike plan om plaasaanvalle te bekamp, is dit duidelik dat die ANC gevoelloos teenoor die boeregemeenskap staan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.