Die VF Plus het ’n klag by die polisie ingedien rondom die rioolbesoedeling van waterbronne by die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Ermelo, Breyten, Chrissiesmeer, Lothair, Davel).
Die oorsaak van die besoedeling is swak en nalatige munisipale bestuur.
Die klag is ingedien teen die munisipale bestuurder van Msukaligwa, mnr. Maqhawe Kunene as die rekenpligtige beampte van die munisipaliteit, sowel as die direkteur vir tegniese dienste, me. Precious Zodwa Duma, onder wie se departement en bevoegdheid rioolverwydering val.
Die gemeenskap van Ermelo vrees vir hul gesondheid en ernstige skade aan die plaaslike ekostelsel deurdat onbehandelde riool vanaf rioolpype en verstopte dreine in ‘n plaaslike vleiland vloei wat op sy beurt die Petdam voed.
Afgesien van die rioolstorting wat na die Petdam vloei en ‘n spoor van besoedeling en dood in die natuur agterlaat, sluit die oorloop van dié dam aan by die Klein Drinkwaterstroom, wat uiteindelik in die reeds hoogs besoedelde Vaalrivier beland. Gegewe die cholera-uitbraak wat onlangs in Gauteng aangemeld is, is dit uiters kommerwekkend dat hierdie hoë vlakke van rou riool deur etlike nedersettings en landbougebiede stroomaf vloei.
Die VF Plus het reeds sedert September 2022 verskeie skrywes gerig aan beide die munisipale bestuurder en die speaker, me. Ntombifuthi Xaba, waarin die rioolbesoedeling uitgelig is. Daar was geen reaksie op dié skrywes nie.
Die VF Plus het ook sy kommer uitgespreek oor die besoedeling tydens ‘n algemene raadsvergadering in Augustus.
Verskeie verdere versoeke om optrede is egter blatant geïgnoreer.
Intussen het visvrektes die afgelope twee weke in die Petdam begin plaasvind. Omliggende skole het die VF Plus begin kontak met klagtes oor die ondraaglike rioolreuk.
Verskeie skoolkinders het na bewering ook hoofpyne begin ontwikkel as gevolg van die stank.
Die VF Plus het hierop gereageer en ‘n watergehaltetoets laat uitvoer.
Die resultate wat pas bekend gemaak is, is skokkend. Hoë vlakke van E. coli-besoedeling (riool) is in die Petdam uitgewys. Die traagheid van die munisipale bestuur om hierdie omgewingsramp te voorkom, ten spyte van verskeie waarskuwings, het dus die VF Plus genoop om voort te gaan met die strafregtelike klag.
Dit is ʼn skande dat die kernbron van die volhoubaarheid van lewe in Suid-Afrika, water, bedreig word deur lakse en onbevoegde plaaslike-ANC regerings soos in Msukaligwa.
Die VF Plus sal aanhou veg vir inwoners se reg om in ʼn skoon en veilige omgewing te woon en werk.
Msukaligwa verdien beter as die ANC.