Die parlementêre ad hoc-komitee se verslag oor Nkandla is ‘n blatante poging om pres. Jacob Zuma te verontskuldig, en die VF Plus het dit in die parlement opgeskeur om op die sterkste manier moontlik sy afkeur daarin te toon, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep.
Dr. Mulder, wat verskeie kere deur die ANC onderbreek is, het pres. Zuma se optrede met dié van die Franse koning Louis die Veertiende vergelyk wat onder meer gesê het; ‘Ek is die staat..’, en ‘Dit is wettig, want dit is hoe ek dit wil hê.’ (It is legal, because I wish it.’)
Volgens dr. Mulder tree pres. Zuma se volgelinge ongelukkig ook op asof ‘die koning niks verkeerd kan doen nie’.
In ‘n ongewone aanbieding het dr. Mulder onder meer ‘n groot foto van Nkandla vertoon, asook ‘n foto van twee lede van die ad hoc-komitee, mee. Dlakude en Kubayi, waar hulle besig is om hulle naels ten tyde van die sitting te poleer.
“Dit is hoe ernstig die komitee was oor die ondersoek wat hulle moes doen na R246 miljoen van die belastingbetalers se geld
wat vermors is,” het hy hierop gesê.
Oor die Nkandla-foto het dr. Mulder gesê Suid-Afrika se staatspresident is waarskynlik die ‘gelukkigste man in die wêreld’ aangesien hy ‘n ‘miljoen rand lotto’ nie net een keer gewen het nie, maar ‘246 keer agtereenvolgens’.
Dr. Mulder het ook na die ANC se hoofsweep, dr. Mothole Motshekga, verwys en gesê indien hy enigiets van die wet geweet
het, sou hy hom van die proses moes verskoon weens ‘n botsing van belange aangesien sy eggenote, minister Angie Motshekga, deur ‘dieselfde persoon’ aangestel is oor wie hy moet oordeel.
Ter afsluiting het dr. Mulder gesê die verslag is bloot ‘n poging om pres. Zuma te verontskuldig en dat daar net ‘een ding is’ wat met die verslag gedoen kan word, waarop hy die verslag aan stukke geskeur het.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403