Die VF Plus gaan die ANC-regering versoek om weg te doen met regstellende aksie (RA) in die openbare sektor aangesien rasse-teikens reeds bereik is en dit nou diskrimineer teen minderhede soos wit en bruin, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.
Die VF Plus het verlede maand met ‘n geskrewe parlementêre vraag oor die stand van RA die jongste syfers bekom wat bewys dat RA-teikens bereik is en dat wit en bruin al onderverteenwoordig is.
In die lig hiervan gaan adv. Alberts nou gesprek voer met die minister van arbeid, Mildred Oliphant, die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, asook die voorsitter van parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, Joanmariae Fubbs.
Hy sal hulle daarop wys dat die voortsetting van RA ongrondwetlik sal wees en dat dit reeds ernstige inbreek maak op die regte van minderhede in Suid-Afrika.
Mediaberigte het die naweek verskyn oor die onderwerp waarin verouderde syfers gebruik is. Die VF Plus se oorspronklike verklaring (van adv. Alberts) gedateer 21 Oktober 2014 word daarom weer hierby aangeheg, asook ‘n verklaring van dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus (gedateer 11 November 2014) oor die aangeleentheid.
MEDIAVERKLARING
ONDERWERP : Wit en bruin nou onderverteenwoordig in staatsdiens volgens regstellende aksie (RA)–teikens
UITGEREIK DEUR: Adv. Anton Alberts
HOEDANIGHEID : VF Plus parlementêre woordvoerder: Staatsdiens en administrasie
DATUM : 21 Oktober 2014
Daar is al hoe minder werk vir wit en bruin in die staatsdiens, en die twee minderheidsgroepe is nou onderverteenwoordig volgens regstellende aksie (RA)–teikens om die demografie van die land te weerspieël, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir staatsdiens en administrasie.
In antwoord op geskrewe parlementêre vrae van adv. Alberts oor onder meer die aantal werknemers van elke bevolkingsgroep in die staatsdiens, blyk dit dat die teiken feitlik reeds vir swartes bereik is. Indiërs word die meeste bevoordeel en is met 0.75% oorverteenwoordig.
Wit en bruin is met bykans ‘n halwe ‘n persentasiepunt onderverteenwoordig. Waar wittes 9,2% van die land se bevolking uitmaak, is hul verteenwoordiging in die staatsdiens net oor 8,8%.
Uit die minister se antwoord blyk dit dat daar tans 1,328,687 werkers in die staatsdiens is. Hiervan is daar onsekerheid oor die ras of geslag van 1,637 persone.
Wat die res aanbetref is daar 1,055,274 (79,4%) swart, 43,120 (3,2%) Indiërs, 111,236 (8,3%) bruin en 117,420 (8,8%) wit.
Adv. Alberts sê dit blyk duidelik uit die statistiek hoe daar toenemend teen wittes in die werkplek gediskrimineer word. Hy sê die hele proses is die laaste twintig jaar aggressief gedryf en Suid-Afrika het ‘n enorme prys daarvoor betaal deur met dienslewering in te boet.
“Die staat moet besef dat die grondwetlike teikens nou bereik is. Die status quo moet van hier af gehandhaaf word. Indien daar voortgegaan sou word om regstellende aksie te dryf soos tot nou toe gedoen is, sal wittes binne enkele jare totaal uit die staatsdiens gedryf word.
“Die regering moet sy beleid oor aanstellings vir eers in trurat implementeer ten einde die onreg teenoor wit en bruin reg te stel. Die VF Plus gaan die ANC-regering hieroor konfronteer en eis dat meer mense uit minderheidsgroepe aangestel word,” sê adv. Alberts.
MEDIAVERKLARING
ONDERWERP : Staat moet ware knelpunte in staatsdiens erken en dit regstel
UITGEREIK DEUR : Dr. Pieter Mulder
HOEDANIGHEID : VF Plus-leier
DATUM : 11 November 2014
Die besprekingspunte op ‘n internasionale konferensie wat die staatsdienskommissie tans in Pretoria aanbied, dui daarop dat die regering nie in voeling is met die ware probleme wat die staatsdiens lamlê nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Die tema van die konferensie is: ‘Die bou van ‘n bekwame, loopbaangerigte en professionele staatsdiens om by te dra tot ‘n ontwikkelende Suid-Afrika’. Brasilië, Maleisië, Sjina en Zimbabwe woon dit by.
Dr. Mulder sê dit is onbegryplik dat Suid-Afrika antwoorde op sy probleme by ‘n land soos Zimbabwe soek terwyl dit oorbekend is dat ‘n oorgroot staatsdiens, buitensporige staatslone en die uitwerking van transformasie die ware probleme is wat reggestel moet word.
“Die regering het in hierdie maand in antwoord op ‘n geskrewe parlementêre vraag van die VF Plus erken dat alle regstellende aksie (RA)-teikens nou bereik is en dat die staatsdiens tewens oorgetransformeer is wat Suid-Afrika se rassedemografie aanbetref.
“Dit beteken dat swartes se teiken van 80%, of 8 uit elke tien staatsdienswerkers, reeds bereik is. Wittes, wat 9,2% van die land se bevolking uitmaak, en bruines op 8,9%, is reeds onverteenwoordig. By binnelandse sake is die swart verteenwoordiging sowat 92%.
“Hierdie is ‘n baie belangrike erkenning en die proses van transformasie sal nou sonder meer stopgesit moet word. Indien daarmee volhard word, sal minderhede soos wit en bruin binnekort totaal uit die staatsdiens gedruk word,” sê dr. Mulder.
Volgens dr. Mulder kon die staatsdienskommissie een van sy eie onlangse bevindings op die konferensie se agenda geplaas het, naamlik dat kaderontplooiing en onbevoegdheid onder die naam van RA en transformasie van die hoofoorsake vir swak dienslewering is.
“Die kommissie het vroeër vandeesmaand luidens ‘n berig in Beeld (7 November) erken dat baie departemente gebuk gaan onder wanadministrasie, ‘n vaardigheidstekort en korrupsie en dat hulle op die rand van ineenstorting is.
“Die Ouditeur-Generaal (OG) het hom ook al hieroor uitgespreek en gesê dat die aanstelling van onkundige mense dienslewering drasties inkort.
“Dit gaan nie net oor wit of swart nie, maar oor meriete en die aanstelling van kundige mense in die belang van almal in Suid-Afrika,” sê dr. Mulder.
Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403