Daar is verskeie munisipaliteite in die Vrystaat wat so ‘n groot finansiële krisis beleef dat daar voorwaardelike infrastruktuur-toekennings vir operasionele kostes gebruik word, salarisse nie betaal kan word nie en verpligte salarisaftrekkings nie aan derde partye, soos SARS en pensioenfondse oorbetaal word nie.
‘n Voorbeeld hiervan is Mafube Plaaslike Munisipaliteit wat tans aan die pensioenfonds R16,63 miljoen, aan SARS R4,239 miljoen en aan ander salarisoordragte R1,746 miljoen skuld. Mafube het tans ‘n bankbalans van net meer as R100 000 en skuld hul krediteure meer as R133 miljoen. Tans kan Mafube nie betyds sy amptenare se salarisse betaal nie en gebruik sy voorwaardelike toekennings vir operasionele uitgawes.
Verskeie munisipaliteite het gedurende die afgelope twee weke voor die Openbare Rekeningekomitee van die Vrystaatse Wetgewer verskyn om hul 2012/13 oudituitkomste te bespreek.
Die toestand van munisipaliteite in die Vrystaat is meer as kommerwekkend. Al die munisipaliteite het buitensporige hoë uitstaande debiteure en krediteure met min tot geen kontantvloei nie. Die hoeveelheid onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes van munisipaliteite is baie hoog en verhoog oor die algemeen jaarliks.
Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit skuld sy krediteure meer as R1,48 miljard terwyl uitstaande debiteure R1,49 miljard beloop en die munisipaliteit tans ‘n bankbalans van R3 miljoen het. Mangaung Metro Munisipaliteit se uitstaande debiteure beloop meer as R3,14 miljard. Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit skuld Eskom meer as R271 miljoen en het uitstaande debiteure van meer as R630 miljoen. Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit skuld sy krediteure meer as R528 miljoen en het uitstaande debiteure van meer as R815 miljoen.
Munisipaliteite het toegelaat dat uitstaande debiteure buitensporige hoogtes bereik weens politieke sensitiwiteit en versigtigheid om ANC-kiesers te ontstig. Hierdie kortsigtigheid het nou tot ‘n volskaalse krisis op plaaslike regeringsvlak gelei. Die agterstand met betrekking tot betaling aan krediteure is te groot om met volgende jaar se billike aandeel te delg. Suid-Afrika is op ‘n fiskale afgrond met die grootste begrotingstekort in haar geskiedenis en dus word die verdeling van fondse aan munisipaliteite al hoe kleiner.
Swak finansiële bestuur, politiekery en regstellende aksie is direk verantwoordelik vir die ontoereikende dienslewering op munisipale vlak.
Die ANC-regering het munisipaliteite in ‘n onoorkombare donker gat gedompel en sonder die nodige politieke wil en kundigheid is daar geen omkeer van hierdie krisis nie.
Kontaknommer: 082 674 6670