Die VF Plus verwelkom en steun die stigting van grondeienaarforums in Gauteng se landelike gebiede as ʼn vorm van selfbestuur.
Die gemeenskappe van Hekpoort en Hartbeesfontein het Woensdag met die bystand van die VF Plus so ʼn forum gestig.
Grondeienaars word weerloos gelaat omdat die polisie, die provinsiale regering en plaaslike owerhede hulle faal weens swak beleid, wanbestuur en korrupsie.
Gauteng beslaan maar sowat 1,4% van Suid-Afrika se grondgebied, maar huisves meer as ʼn kwart van die land se bevolking. Meer as ʼn halfmiljoen immigrante maak jaarliks Gauteng hul nuwe voorkeur bestemming.
Die provinsie en plaaslike owerhede kan nie voldoen aan behuisingsbehoeftes in dorpe en stede nie en daarom word mense in groot getalle geskuif na landelike gebiede waar informele nedersettings soos paddastoele opskiet.
Grondwater, strome en riviere word besoedel met rommel en rou riool wat boerderybedrywighede en toerisme benadeel. Dit bedreig ook die beskikbaarheid van skoon water as ʼn skaars hulpbron.
Werksgeleenthede vir inwoners van hierdie nedersettings is skaars en daarom word plase van hout gestroop vir energie en neem misdaad drasties toe.
Die Gautengse regering is besig om ʼn humanitêre krisis te skep wat afspeel teen die agtergrond van grondverswarende wetgewing soos die Wet op die Bewaring van Grond, die Onteieningswet en die Wetsontwerp op die Billike Toegang tot Grond wat dit ten doel het om grondbesit in lyn met Suid-Afrika se rassedemografie te bring.
Hierdie wetgewing plaas grondeienaars onder geweldige druk.
Dit is dus noodsaaklik dat grondeienaars hul ondersteuningshulpbronne saamvoeg om as ʼn gemeenskap ondersteunend tot aangewese wetstoepassingsagentskappe na hul eie veiligheid om te sien.
Sodoende kan grondbesettings gestuit word en die gemeenskap kan saam onderhandel met die staat of privaat instansies om beleggings na hul gemeenskappe te lok en om omgewingsbewaring en toerisme te bevorder.
Die VF Plus sal hom bly beywer vir die afwenteling van mag en groter besluitneming op gemeenskapsvlak midde omstandighede waar owerhede hul grondwetlike mandaat gefaal het.