Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nie nodig vir Suid-Afrika om kant te kies wat sy internasionale betrekkinge aanbetref nie

(Parlementsdebat: Die besluit van Amerika en geldelike hulp aan Suid-Afrika te staak en die reaksie daarop)

Suid-Afrika se regering moet optree in belang van die gewone mense van Suid-Afrika wat sy verhouding en handelsbande met Amerika aanbetref. Dit sou op die minste onverstandig wees om Amerika verder weg te stoot.

Die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAid) het verlede maand alle geldelike hulp aan Pepfar-gefinansierde MIV/vigs-programme in Suid-Afrika opgeskort met die Agoa-ooreenkoms ook in die weegskaal.

Sedert die totstandkoming van Pepfar in 2003 het Amerika meer as agt miljard dollar aan Suid-Afrika geskenk om HIV te bestry wat ‘n groot verskil in die lewe van baie mense gemaak het. Vir hierdie jaar is 439 miljoen dollar (sowat R7,9 miljard) begroot. Dit is nou van die baan.

In die groter prentjie speel Pepfar boonop ‘n klein rol in die verhoudinge en handel tussen Suid-Afrika en Amerika.

Amerika is Suid-Afrika se naasgrootste handelsvennoot. Handel tussen die lande beloop sowat 21 miljard dollar (R378 milard) per jaar. Hiervan beloop handel deur die Agoa-ooreenkoms, wat Suid-Afrika uiters voordelig is, 3,6 miljard dollar of bykans R65 miljard.

Indien iets met hierdie vennootskap sou skeefloop, gaan dit gewone werkers wees wat die meeste daaronder gaan ly. Van plaaswerkers tot fabriekswerkers in voertuig-industrieë en vele meer.

Hierdie mense gaan hul werk en inkomste verloor en Suid-Afrika kan nie groter werkloosheid bekostig nie.

Dit is ook nie waar dat die verhoudinge begin versuur het nadat Donald Trump oorgeneem het as Amerikaanse president nie.

Reeds onder die Biden-administrasie het die Amerikaanse kongres ‘n wetsontwerp aanvaar wat gesteun is deur beide die Demokrate en Republikeine, om Amerika se verhouding met Suid-Afrika in heroorweging te neem.

Die realiteit hieroor is dat Suid-Afrika verkies het om ten koste van Amerika betrekkinge te bou met al die lande wat Amerika beskou is direkte vyande, soos Rusland, Sjina, Iran en Noord-Korea.

Hier kan Suid-Afrika eerder ‘n blaadjie neem uit die boek van Indië se staatshoof, mnr. Shri Modi.

Indië is ‘n senior vennoot in die Brics-vennootskap, maar hy besef ook hoe belangrik is stewige bande met Amerika. Hy het pres. Trump kort na sy verkiesing besoek en ‘n belangrike handelsooreenkoms met Amerika gesluit tot groot voordeel van Indië.

Hy het sy land in die proses eerste geplaas en gedoen wat die beste is vir die gewone mense van Indië. Om in hierdie globale spel kant te kies, is nie verstandig nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.