Die VF Plus verwelkom die groeiende steun en openbare druk vir die ontbondeling van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit en die herinstelling van twee aparte munisipaliteite vir Potchefstroom en Ventersdorp.
Die party het van die begin af kapsie gemaak teen die gedwonge samesmelting van die twee dorpe in een munisipaliteit in 2016.
Die VF Plus het destyds uitgewys dat dit ‘n ondeurdagte, polities gedrewe besluit van die ANC-regering was sonder die behoorlike oorweging van elke gemeenskap se unieke behoeftes, identiteit en ontwikkelingsuitdagings.
Dit is egter noodsaaklik dat só ‘n ontbondelingsproses deeglik beplan en verantwoordelik uitgevoer word.
Ewe belangrik is dat verseker moet word dat beide Ventersdorp en Potchefstroom as volhoubare munisipaliteite sal voortbestaan sonder ontwrigtings in dienslewering.
Ventersdorp, met ‘n kleiner inkomstebasis, behoort alle ondersteuning te kry om ’n ten volle funksionerende, selfonderhoudende dorp te wees met sy eie administrasie, begroting en ontwikkelingsprioriteite. Dit mag nie verander in nóg ’n munisipaliteit wat totaal in duie stort en vergeet word nie.
Die toekoms van Ventersdorp se inwoners kan nie opgeoffer word onder die vaandel van “vordering” sonder inhoud nie.
’n Verantwoordelike ontbondeling moet insluit:
• ‘n Lewensvatbare finansiële raamwerk vir beide dorpe ná die ontbondeling.
• ’n Duidelike strategie vir dienslewering in Ventersdorp en behoorlike personeel- en infrastruktuurbeplanning
Die VF Plus sal aanhou stry vir ’n proses wat plaaslike beheer herstel, dienslewering verbeter en elke gemeenskap hul regmatige plek en waardigheid gee.
Die VF Plus doen ’n beroep op die nasionale en provinsiale owerhede om alle belanghebbendes in goeie trou te betrek sonder partypolitieke inmenging om te voorkom dat die foute van die verlede herhaal word.
Die inwoners van Potchefstroom én Ventersdorp verdien beter — nie net in beginsel nie, maar in praktyk.


