Die VF Plus het ’n dringende versoek gerig aan die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.gen. Baile Motswenyane, om in te gryp ná ’n grusame aanval op ’n 60-jarige vrou in Bothaville.
Luidens mediaberigte is sy op brutale wyse met ’n hamer en ’n byl aangeval en moontlik seksueel aangerand. Sy is teen Woensdag van die ventilator afgehaal en stadig tot haar bewussyn gebring.
Nieteenstaande bewerings dat ooggetuies ‘n verdagte geïdentifiseer het, het die polisie op Bothaville nog niemand in hegtenis geneem nie en wag hulle klaarblyklik eers om ‘n gesprek met die slagoffer te voer.
Indien ‘n verdagte wel bekend is, is hierdie versuim onaanvaarbaar en stuur dit ’n gevaarlike boodskap aan slagoffers en gemeenskappe.
Die Vrystaat staan bekend as die provinsie met die hoogste verkragtingskoers in Suid-Afrika met ‘n jongste syfer van bykans 24 uit 100 000 vroue.
Aan die begin van 2025 is ’n verdere stygende tendens van 4% in seksuele geweld en pogings tot moord op vroue ook aangeteken. Dit maak die provinsie een van die gevaarlikste plekke vir vroue in die land.
Die regering se retoriek oor die bekamping van geweld teen vroue beteken niks as die polisie nie daadwerklik optree wanneer sulke grusame aanvalle plaasvind nie. Dade moet by woorde pas.
Die VF Plus spreek sy medelye uit met die slagoffer en haar familie en wens hulle sterkte toe met die pad van herstel wat voorlê. Die party sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat geregtigheid geskied.


